www.solidariteit.co.za 0861 25 24 23 * Solidariteit Navorsingsinstituut Solidariteit Beweging Matriekverslag Saamgestel deur die Solidariteit Navorsingsinstituut Desember 2015 Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en die vooruitsigte vir die matrieks van 2015
25
Embed
Matriekverslag - solidariteit.co.za · Slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat ... diploma of ʼn sertifikaat – wél veel beter in die arbeidsmark vaar as diegene
This document is posted to help you gain knowledge. Please leave a comment to let me know what you think about it! Share it to your friends and learn new things together.
Transcript
www.solidariteit.co.za 0861 25 24 23*
SolidariteitNavorsingsinstituut
SolidariteitBeweging
Matriekverslag
Saamgestel deur die Solidariteit Navorsingsinstituut
Desember 2015
Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en die vooruitsigte vir die matrieks van 2015
2. Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark ................................................ 4
2.1 Die arbeidsmark – oorsigtelik .................................................................... 4
Grafiek 2.1.1: Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in die derde kwartaal van 2015 ......... 4
Grafiek 2.1.2: Werkloosheid in Suid-Afrika van 2008 tot 2015 ..................................... 5
Grafiek 2.1.3: Die werkskoers in Suid-Afrika van 2008 tot 2015 .................................. 6
2.2 Die invloed van opleiding in die arbeidsmark ........................................... 7
Grafiek 2.2.1: Suid-Afrikaanse bevolking ouer as 19 volgens opleidingsvlak .............. 7
Grafiek 2.2.2: Die graad 2-klas van 2004 se vordering deur die skoolstelsel ............... 8
Grafiek 2.2.3: Werkskoers volgens opleidingsvlak: 2008 tot 2015 ..............................10
2.3 Die invloed van opleiding en ouderdom op inkomste ............................ 11
Grafiek 2.3.1: Werkende bevolking van 19- tot 64-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak en maandelikse inkomste ...................................................................12
Grafiek 2.3.2: Werkende bevolking volgens ouderdomsgroep en maandelikse inkomste ....................................................................................................................14
Grafiek 2.3.3: Werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en maandelikse inkomste ..........................................................................15
Grafiek 2.3.4: Werkende mense met ʼn graad as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en maandelikse inkomste ..........................................................................15
Grafiek 2.3.5: Werkende mense van 18- tot 24-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak, inkomste en ouderdom ......................................................................16
3. Uiteensetting van 2014 se matriekuitslae ................................. 18
3.1 Slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat ................... 18
3.2 Uitslae van 2014 se voltydse kandidate – per vak .................................. 20
Die matrieks van 2015 wil uiteenlopende dinge ná matriek gaan doen. Sommige sal, soos
hulle reeds beplan het, kan gaan studeer, terwyl ander se planne deur hul matriekuitslae in
die wiele gery sal word. Daar sal ook ʼn groep wees wat geen planne vir verdere opleiding het
nie en dadelik sal wil gaan werk – soos hul voormalige skoolmaats wat die skool reeds vóór
matriek verlaat het.
Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is ongelukkig steeds in ʼn swak toestand. Hoewel
werkloosheidsvlakke en ander aanwysers van maand tot maand en van kwartaal tot kwartaal
verander, is daar steeds geen sterk verbetering nie. Werkloosheid is in die algemeen hoog
en onder jong mense nóg hoër. In die arbeidsmark vaar matrikulante nie veel beter as hul
maats wat hul skoolloopbane reeds vroeër beëindig het nie. Soos in vorige jare is die goeie
nuus egter dat mense wat oor ’n tersiêre kwalifikasie in een of ander vorm beskik – al is dit ʼn
diploma of ʼn sertifikaat – wél veel beter in die arbeidsmark vaar as diegene wat slegs oor
matriek beskik.
ʼn Matrieksertifikaat is ongelukkig nie werklik goeie voorbereiding vir die moderne
werksomgewing nie. Een van die redes hiervoor is dat ʼn baie klein getal matrikulante elke
jaar goeie uitslae in sleutelvakke soos Rekeningkunde, Wiskunde, Lewenswetenskap en
Fisiese Wetenskappe behaal. Hierdie groep matrikulante is in elk geval tipies ook die groep
wat nie direk ná skool die arbeidsmark wil betree nie en wat eerder verder wil studeer.
Inkomstedata toon egter ook dat selfs jong mense wat ná verdere studies die arbeidsmark
betree, nie moet verwag om onmiddellik hoë salarisse te verdien nie, hoewel salarisse (veral
vir diegene met verdere opleiding) wel vinnig styg namate ouderdom, en dus ondervinding,
toeneem.
In hierdie verslag word ʼn ontleding van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark gedoen. Van die
inligting verkry uit die 2011-sensus word ook ontleed om te bepaal watter invloed
akademiese kwalifikasies en ondervinding op inkomste het. ʼn Uiteensetting van die
matriekuitslae van 2014 vorm ook deel van die verslag.
4
2. Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark
Suid-Afrika gaan al dekades lank onder uiters hoë werkloosheid gebuk. Hierdie werklikheid
maak dit ook dikwels vir jong mense moeilik om werk te kry aangesien die aanbod van
werkers, veral werkers met min opleiding en ondervinding, die huidige vraag vêr oorskry.
In hierdie afdeling word die arbeidsmark en die wyse waarop opleiding ʼn rol daarin speel,
dieper ontleed.
2.1 Die arbeidsmark – oorsigtelik
Tans word die getal werkende mense in Suid-Afrika van 15- tot 64-jarige ouderdom deur
Statistieke Suid-Afrika op sowat 15,8 miljoen geskat. Alle sektore is hierby ingesluit: formeel,
informeel, landbou en huiswerkers. Grafiek 2.1.1 toon hoe hierdie mense by die totaal van
sowat 55 miljoen mense in Suid-Afrika inpas.
Grafiek 2.1.1: Die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in die derde kwartaal van 2015
Die werkende groep maak slegs sowat 43,8% van die totale getal mense van
werksouderdom (15 tot 64) uit. Hierdie koers word die arbeidsopnamekoers of die
5
werkskoers genoem. Die werkskoers gee eintlik ʼn beter idee as die werkloosheidskoers van
die stand van die arbeidsmark.
Suid-Afrika se werkskoers van 43,8% vergelyk swak met die koerse van lidlande van die
Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) wat in 2013 gemiddeld
op 65,3% gestaan het, met Ysland wat met 81,8% die hoogste werkskoers gehad het, en
Turkye (waar baie vroue om godsdiensredes nie werk nie) die laagste koers (49,5%) gehad
het. Die koerse van twee lande wat in talle opsigte soortgelyk aan Suid-Afrika is, Brasilië en
Meksiko, was onderskeidelik sowat 67% en 61% – veel hoër as dié van Suid-Afrika.
As Suid-Afrika die gemiddelde OESO-werkskoers van 65,3% wil ewenaar, moet daar 7,8
miljoen meer werkende mense in die land wees nog voordat enige bevolkingsgroei
ingereken word – dit verg ʼn styging van die huidige 15,8 miljoen tot 23,6 miljoen. Veel meer
mense in Suid-Afrika bereik egter jaarliks werksouderdom as wat aftree of om ander redes
(sterftes inkluis) ophou werk.
Die volgende grafieke toon hoe die werkloosheidskoers, volgens sowel die eng as die breë
definisie, sedert die begin van 2008 gestyg het, terwyl die werkskoers weens die resessie in
2008 afgeneem het.
Grafiek 2.1.2: Werkloosheid in Suid-Afrika van 2008 tot 2015
6
Grafiek 2.1.2 toon duidelik waarom dit in Suid-Afrika beter is om die uitgebreide (of breë)
eerder as die eng definisie van werkloosheid te oorweeg. As slegs die eng definisie beskou
word, lyk die uitwerking van die resessie, wat aan die einde 2008 begin het, nie te erg nie.
Die eng werkloosheidskoers het slegs met minder as drie persentasiepunte van 22,8% tot
25,5% gestyg. Die uitgebreide definisie wys egter baie duideliker hoe die ekonomiese
resessie die arbeidsmark getref het, met ʼn werkloosheidskoers wat met sowat vyf
persentasiepunte van 29,5% tot 34,4% gestyg het.
Grafiek 2.1.3: Die werkskoers in Suid-Afrika van 2008 tot 2015
Grafiek 2.1.3 toon hoe die werkskoers bly daal het selfs aan die einde van die ekonomiese
resessie in September 2009. Van 2010 tot op hede het die koers weer langsaam begin styg,
maar nie genoeg om weer 2008 se vlakke te bereik nie omdat die getal mense van
werksouderdom vinniger styg as die getal mense wat werk het.
Die werkskoers van jong mense (van 15- tot 24-jarige ouderdom) in Suid-Afrika het ook
gedaal, van sowat 17% in 2008 tot 13,4% aldus die nuutste data. Onder hierdie groep jong
mense is die werkskoers egter nie die beste aanwyser om te gebruik nie aangesien ʼn groot
aantal van die 15- tot 24-jarige bevolking nog op skool is of voltyds studeer en voor die hand
liggend nie werk nie. ʼn Beter aanwyser onder jong mense is daardie persentasie wat nie
7
werk nie en ook nie met opleiding besig is nie. In die derde kwartaal van 2015 was hierdie
koers onder Suid-Afrika se 15- tot 24-jariges 29,6%; met ander woorde byna een uit elke drie
jong mense in Suid-Afrika sit en niksdoen.
2.2 Die invloed van opleiding in die arbeidsmark
Suid-Afrika se arbeidsmark word reeds dekades lank oorweldig deur ʼn groot ooraanbod van
mense met geen of min opleiding wat dit moeilik vind om werk te kry of om werk te behou.
Wanneer hierdie mense wel werk kry, is die vergoeding gewoonlik relatief laag. Vergoeding
is, direk of indirek, aan waardetoevoeging (produktiwiteit) gekoppel. Dit gebeur selde dat
mense met lae of geen opleiding soveel waarde kan toevoeg as mense met hoër of beter
opleiding. Daar is dus ʼn sterk verband tussen opleiding en vergoeding.
Hoewel meer jong mense in Suid-Afrika tans sekondêre en tersiêre opleiding as voorheen
voltooi, verlaat ʼn groot aantal steeds die skoolstelsel voordat hulle matriek voltooi het. Dit
bring mee dat opleidingsvlakke in die arbeidsmark nie so vinnig verander as wat andersins
die geval sou kon wees nie. Grafiek 2.2.1 toon hoe die samestelling van die Suid-Afrikaanse
bevolking ouer as 19 jaar volgens opleidingsvlak van 2002 tot 2013 verander het. Die syfers
is op data uit Statistieke Suid-Afrika se jaarlikse Algemene Huishoudingsopnames gegrond.
Grafiek 2.2.1: Suid-Afrikaanse bevolking ouer as 19 volgens opleidingsvlak
8
Daar kan gesien word hoe die onderste twee kategorieë van volwassenes met geen
opleiding of opleiding wat nie sekondêre opleiding (hoërskool) insluit nie, gekrimp het. Die
ander kategorieë het gegroei: mense met matriek (of die ekwivalent daarvan) as hoogste
opleidingsvlak maak nou sowat 28% van die volwasse bevolking uit teenoor die 22% in
2002, terwyl die aandeel van mense met tersiêre opleiding van 10% in 2002 tot 13% gestyg
het. Tersiêre opleiding sluit hier alle kwalifikasies in wat op ʼn hoër vlak as matriek verwerf is
– nie slegs graadstudies nie.
Hierdie verbetering in die opleidingsvlakke van die Suid-Afrikaanse volwasse bevolking is
positief, maar die proses verloop ongelukkig baie stadig. Die 13% van volwassenes wat oor
enige vorm van tersiêre opleiding beskik, is ook steeds gans te laag.
Hoewel dit nie heeltemal ʼn akkurate weerspieëling van die fynere dinamika van die Suid-
Afrikaanse skoolstelsel is nie, toon grafiek 2.2.2 hieronder die graad 2-klas van 2004 se
progressie deur die skoolstelsel tot in matriek in 2014. Die graad 2-klas van 2004 word
gebruik eerder as die graad 1-klas van 2003 aangesien daar bepaalde probleme met die
data vir die graad 1-klasse is.
Grafiek 2.2.2: Die graad 2-klas van 2004 se vordering deur die skoolstelsel
9
Daar was ʼn groot afname in leerlinge van graad 2 tot matriek oor die betrokke tydperk, met
net meer as die helfte van die graad 2-groep van 2004 wat nie aan die einde van die 11 jaar
vir die matriekeksamen ingeskryf het nie.
Leerlinge wat vinniger of stadiger as die norm deur die stelsel vorder, het natuurlik ʼn invloed
op hierdie tipe syfers, wat beteken dat elke jaargroep se syfers nie noodwendig slegs
betrekking het op individue wat in 2004 saam in graad 2 was nie. Ter illustrasie: sowat 9%
van alle leerlinge in 2009 was besig om ʼn graad te herhaal en sowat 13% van alle 16-jariges
het in 2009 nog nie graad 7 voltooi nie. Die syfers oor die grootte van elke jaargroep word
ook beïnvloed deur faktore soos leerlinge wat die skoolstelsel onvermydelik permanent
verlaat weens faktore soos siekte, gestremdheid, emigrasie of sterfte. Deur die jare voeg
immigrasie ook bykomende leerlinge tot die groep toe.
Ten spyte van hierdie voorbehoude oor die data toon dit tog dat slegs ʼn klein groepie, minder
as vier uit tien van die oorspronklike graad 2-klas, wel daarin kon slaag om ʼn
matrieksertifikaat binne die minimum tydperk te verwerf. Hierdie tendens verklaar waarom
die samestelling van die Suid-Afrikaanse bevolking volgens opleidingsvlak so stadig
verander. ʼn Groot getal mense verlaat skool te vroeg, hoewel diegene wat in uiters
disfunksionele skole is nie daarvoor geblameer kan word indien hulle nie die waarde van ʼn
skoolopleiding kan insien nie.
Nietemin maak mense met matriek as hoogste kwalifikasie wel ʼn groeiende deel van die
volwasse bevolking uit. Ongelukkig is ʼn matrieksertifikaat op sigself nie veel werd in die
arbeidsmark nie. ʼn Matrieksertifikaat is gewis nie ʼn paspoort tot werk wat veel beter
vergoeding as ongeskoolde handearbeid bied nie. Dit is deels as gevolg daarvan dat daar
tans meer mense met matrieksertifikate is as wat ʼn paar dekades gelede die geval was. ʼn
Groter aanbod van mense met matrieksertifikate beteken dat die relatiewe waarde daarvan
afneem, selfs al is daar geen verandering in standaarde op individuele vlak nie.1
In grafiek 2.2.3 word die werkskoers (wat in afdeling 2.1 hierbo bespreek is) volgens
opleidingsvlak uiteengesit.
1 Opleidingstandaarde wat verander, kan natuurlik ook ʼn invloed hê, maar of dit in Suid-Afrikaanse skole oor die afgelope dekade of twee gestyg of gedaal het, val buite die bestek van hierdie verslag.
10
Grafiek 2.2.3: Werkskoers volgens opleidingsvlak: 2008 tot 2015
Die geringe verskil tussen diegene wat minstens graad 7 voltooi het (die groen lyn in die
grafiek); diegene wat tot so ver as graad 11 gevorder het (die pers lyn); en diegene sonder
enige formele opleiding (die blou stippellyn) kan duidelik hier gesien word. Hierdie drie
groepe bly maar deurentyd na aan mekaar, met ʼn werkskoers van ongeveer 30% tot 35% in
die data van die afgelope ses jaar. Enige kwalifikasie laer as matriek beteken dus feitlik niks
vir ʼn persoon se kans om werk te hê nie.
Diegene wat wel matriek as hoogste kwalifikasie het, vaar slegs ʼn bietjie beter, met ʼn
werkskoers wat naby 50% bly vassteek. Hierdie syfers word wel tot ʼn geringe mate
skeefgetrek, want op enige gegewe datum is daar ʼn sekere getal mense wat wel matriek as
hoogste kwalifikasie het, maar nog nie werk nie omdat hulle verkies om verder te studeer.
Nietemin, selfs met dié faktor ingereken sou die werkskoers vir matrieks nie veel hoër styg
nie.
Die groot verskil kan by tersiêre opleiding gesien word. Rondom 75% tot 80% van alle
mense wat oor een of ander vorm van tersiêre opleiding beskik, het wel werk. Tersiêre
opleiding verbeter ʼn persoon se kans op indiensneming tot ʼn baie groot mate – tot ’n veel
groter mate as matriek alleen.
11
Tersiêre opleiding verhoog boonop potensiële verdienste omdat ʼn persoon met meer kennis
en die vermoë om daardie kennis toe te pas, meer waarde kan toevoeg. Die menslike
samelewing is op kennis gebou – dit is die bron van vooruitgang en verbeterde
lewensomstandighede. Mense wat oor die kennis beskik om ʼn verdere bydrae tot hierdie
verbetering te lewer, sal altyd daarvoor vergoed word. Dit is die rede waarom mense soveel
tyd en geld, en potensiële verdienste sal opoffer om wel skool te gaan en verder opgelei te
word. Hulle oordeel korrek dat die moeite, geld en tyd wat hulle in opleiding belê later ʼn
veelvuldige opbrengs sal lewer.
Gesien teen die agtergrond van ʼn moderne kennisekonomie verbaas die hoë
werkloosheidskoers in Suid-Afrika dus nie, aangesien skaars 13% van die volwasse
bevolking oor tersiêre opleiding beskik.
2.3 Die invloed van opleiding en ouderdom op inkomste
Die werkskoers en die kans van mense in Suid-Afrika om werk te kry, vorm die een deel van
die vraag oor wat opleiding vir ’n individu kan beteken. Die ander deel het te make met die
invloed wat opleiding op vergoeding het wanneer ʼn persoon wel werk het.
Om hierdie vraag te help beantwoord is die data van die 2011-sensus oor werkende mense
in Suid-Afrika ontleed. Drie faktore – opleiding, ouderdom en inkomste – is ondersoek.
12
Grafiek 2.3.1: Werkende bevolking van 19- tot 64-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak en
maandelikse inkomste
Dit is duidelik dat opleiding ʼn baie groot invloed het op die inkomste wat ʼn werkende persoon
verdien. Hou ook in gedagte dat hierdie data slegs werkende mense insluit. Indien alle
mense ingesluit word, of hulle nou werk of nie, is die kontras tussen die laer en hoër
opleidingsvlakke nog groter omdat dit dan ook inreken dat mense met minder opleiding meer
sukkel om werk te kry.
Grafiek 2.3.1 toon die volgende:
• Minder as 5% van alle werkende mense wat geen opleiding het nie, het in 2011 meer
as R6 400 per maand verdien. Dieselfde geld vir werkende mense met voltooide of
onvoltooide laerskoolopleiding.
• Op onvoltooide sekondêre vlak, maar sonder ander naskoolse opleiding, is
inkomstevlakke ietwat hoër, met sowat 10% van dié groep wat in 2011 meer as
R6 400 per maand verdien het. Hierdie mense is waarskynlik funksioneel geletterd en
het basiese syfervaardighede wat sommige van hulle in staat stel om iets meer as
ongeskoolde handearbeid te verrig.
• Onder werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie (met geen ander
diploma of sertifikaat nie) word die eerste groot verskil in inkomste bespeur: Bykans
13
30% het in 2011 meer as R6 400 per maand verdien en meer as 13% het meer as
R12 800 per maand verdien.
In afdeling 2.2 is aangetoon dat matriek alleen nie ʼn baie groot invloed het op ʼn
persoon se kans om werk te hê nie, maar hier is dit tog merkbaar dat matriek wel ʼn
invloed op inkomste het wanneer ʼn matrikulant wel werk kry.
• Die resultate van die volgende vlak mag ietwat verrassend wees. Die vlak het
betrekking op mense wat nie matriek het nie, maar wat wel een of ander tersiêre
diploma of sertifikaat het. Byna 50% van hierdie mense het in 2011 meer as R6 400
per maand verdien en meer as ʼn kwart het meer as R12 800 per maand verdien.
Daar is selfs ʼn beduidende groep van 8,1% wat meer as R25 600 per maand verdien
het. Hierdie groep het baie uiteenlopende kenmerke aangesien die gehalte en nut
van die onderskeie sertifikate en diplomas verskil. Dit is egter duidelik dat al verwerf
hulle nie matriek nie, diegene wat wel ʼn ander kwalifikasie verwerf tog goeie
vooruitsigte kan hê. Veral wanneer hierdie groep met die groep wat slegs ʼn
onvoltooide sekondêre skoolloopbaan het vergelyk word.
• Die groep werkende mense wat oor matriek, asook ʼn sertifikaat of diploma beskik, is
die eerste groep waar meer as 50% ʼn inkomste van hoër as R6 400 per maand
verdien het. Die inkomste van meer as 30% het meer as R12 800 per maand beloop
en 9,1% het meer as R25 600 per maand verdien.
• Die volgende groep, mense met universiteitsgrade, hoër diplomas of gelykwaardige
kwalifikasies, toon die grootste sprong in inkomstevlakke. Byna 80% van hierdie
groep het in 2011 meer as R6 400 per maand verdien. Meer as die helfte het meer as
R12 800 per maand verdien en byna ʼn kwart het meer as R25 600 per maand
verdien. ʼn Beduidende 7% het selfs meer as R51 200 per maand verdien.
• Die volgende opleidingsvlak – ʼn honneursgraad of hoër – toon ook ʼn beduidende
styging in inkomstevlakke. Meer as 85% van hierdie groep het in 2011 meer as
R6 400 per maand verdien; sowat 68% meer as R12 800 per maand; 38% meer as
R25 600 per maand; en sowat 16% meer as R51 200 per maand.
Oor die algemeen toon hierdie data presies wat te verwagte is. Hoe meer tyd (en geld)
iemand aan opleiding afstaan, hoe groter is die vergoeding daarvoor. Daar is natuurlik
uitsonderings op hierdie beginsel, maar sulke uitsonderings is gering.
Opleidingsvlakke is een van die belangrikste faktore wat bepaal wat ʼn persoon in staat is om
te produseer en wat hy of sy gevolglik as inkomste kan kry. Ervaring – direkte
werksondervinding sowel as algemene lewenservaring – is die ander baie belangrike faktor.
Daar is ongelukkig geen groot, oorkoepelende datastelle wat direkte werksondervinding
14
meet nie, maar ouderdom kan gebruik word om die uitwerking van werk- en lewenservaring
te beraam. Iemand wat 40 jaar oud is, kan maklik meer as twee dekades se
werksondervinding hê, terwyl dit onwaarskynlik is dat ʼn 18-jarige enige noemenswaardige
werksondervinding sal hê.
Grafiek 2.3.2: Werkende bevolking volgens ouderdomsgroep en maandelikse inkomste
Hierdie grafiek toon die invloed wat ouderdom op inkomste het. Tot en met die groep van 40
tot 49 jaar is daar ʼn sterk progressie van stygende inkomste namate mense ouer word. Dit
begin bevestig watter invloed ondervinding op inkomstepotensiaal kan hê. Hierdie grafiek
bevat egter eintlik te veel data om ʼn baie duidelike aanduiding van die effek van ouderdom
en ondervinding op inkomste te gee omdat dit alle opleidingsvlakke saamgooi.
Die volgende twee grafieke toon die groot verskille wat opleiding en ouderdom saam
meebring duideliker aan. Die eerste grafiek toon slegs die inkomstekategorieë van mense
met matriek as hoogste kwalifikasie in verskillende ouderdomsgroepe aan en die
daaropvolgende grafiek toon die inkomstekategorieë vir mense met ʼn graad of ekwivalente
kwalifikasie aan.
15
Grafiek 2.3.3: Werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en
maandelikse inkomste
Grafiek 2.3.4: Werkende mense met ʼn graad as hoogste kwalifikasie volgens ouderdom en
maandelikse inkomste
16
Die kontras tussen die inkomstepotensiaal wat ʼn graad bo ʼn matrieksertifikaat bied, is hierbo
vir elke ouderdomsgroep duidelik. In die ouderdomsgroep van 23 tot 29 jaar het byvoorbeeld
slegs sowat 18,4% van die werkende mense met matriek as hoogste kwalifikasie meer as
R6 400 per maand in 2011 verdien. In dieselfde ouderdomsgroep het sowat 67,3% van
diegene met ʼn graad as hoogste kwalifikasie meer as R6 400 per maand verdien.
Albei grafieke toon ook duideliker aan watter invloed ondervinding kan hê, met nie eens 10%
van die groep van 19- tot 23-jariges met matriek as hoogste kwalifikasie wat meer as R6 400
per maand verdien het nie, terwyl byna 30% van die 30- tot 39-jariges met matriek as
hoogste kwalifikasie meer as R6 400 verdien het. Die kontras is selfs groter wanneer die
verskille volgens ouderdom in grafiek 2.3.4 beskou word. Hierdie tendense kan op laer
ouderdomme ook gesien word en word in die volgende grafiek uiteengesit.
Grafiek 2.3.5: Werkende mense van 18- tot 24-jarige ouderdom volgens opleidingsvlak,
inkomste en ouderdom2
2 Die grafiek toon die inkomste in 2011 (volgens VPI aangepas tot 2014) op die 75ste persentiel aan. Met ander woorde, 75% van elke groep verdien minder as die aangeduide bedrag en 25% verdien meer. Op die hoër opleidingsvlakke word die laer ouderdomme nie ingesluit nie aangesien daar te min 18-jariges is wat reeds sertifikate of diplomas verwerf het; te min 18- en 19-jariges wat reeds ʼn graad verwerf het; en daar te min 18- tot 21-jariges is wat reeds ʼn honneursgraad of hoër verwerf het om betroubare resultate in die data te toon.
17
Hier kan duidelik gesien word dat daar vir elke opleidingsvlak, selfs net met een jaar verskil
in ouderdom, alreeds groot verskille kan wees, veral op die hoër opleidingsvlakke. Op elke
opleidingsvlak styg inkomste namate ouderdom (en dus ervaring) toeneem. Kyk byvoorbeeld
na die groep met matriek plus ʼn sertifikaat of diploma as hoogste kwalifikasie (die groen lyn).
Die werkende 20-jariges in hierdie groep se inkomste op die 75ste persentiel is sowat
R6 000, maar vir die 24-jariges met soortgelyke kwalifikasies is dit meer as R11 000.
Hierdie data toon dat dit ongetwyfeld waardevol is om selfs op ʼn jong ouderdom ʼn
kwalifikasie hoër as matriek te verwerf. Vergelyk ook byvoorbeeld die inkomsteprofiele van
24-jariges wat slegs matriek het en diegene wat matriek plus ʼn sertifikaat of diploma het. Die
24-jariges wat slegs matriek het, se inkomste op die 75ste persentiel is skaars meer as
R5 500 per maand, terwyl dit vir diegene wat matriek plus ʼn sertifikaat of diploma het, meer
as R11 000 is.
Die data toon wel dat diegene wat pas afgestudeer het nie moet verwag om sommer met die
intrapslag by hul eerste werk dieselfde salaris te verdien as ouer mense met meer
ondervinding nie; dit toon egter wel dat vergoeding oor die algemeen redelik vinnig styg
namate ondervinding toeneem, veral op die hoër kwalifikasievlakke.
18
3. Uiteensetting van 2014 se matriekuitslae
In 2014 was daar ʼn geringe daling in die matriekslaagsyfer van 78,2% in 2013 tot 75,8%.
Hierdie verandering is nie veelbeduidend nie aangesien die persentasie van matriekleerlinge
wat slaag op sigself nie ʼn goeie maatstaf vir die werklike gehalte van die Suid-Afrikaanse
skoolstelsel is nie. Daar is ander probleme wat veel meer aandag behoort te geniet, soos die
groot getal leerlinge wat die skoolstelsel voor matriek verlaat; die relatief lae slaagvereistes;
en die vraag of die meeste matrieks wat slaag, wel vir tersiêre opleiding voorberei is. In die
vorige afdeling is reeds uiteengesit hoe matriek nie meer werklik vir mense ʼn beduidende
voorsprong in die arbeidsmark gee nie.
3.1 Slaagvereistes vir matriek en die waarde van ʼn sertifikaat
Een van die grootste probleme met die matriekeksamen is dat die slaagvereistes vir ʼn
matrieksertifikaat eenvoudig te laag is. Dit beroof die sertifikaat van baie van sy potensiële
waarde. Matrikulante hoef slegs een amptelike taalvak op huistaalvlak met 40% of hoër te
slaag. Twee ander vakke, buiten Lewensoriëntering, moet met 40% of hoër geslaag word. ʼn
Verdere drie vakke moet met 30% of hoër geslaag word en een vak kan gedruip word. Die
laagste eenvoudige gemiddelde slaagpunt wat ʼn matrikulant dus kan hê, is 30%, hoewel die
laagste ware slaagpunte realisties nader aan 40% sal wees. Selfs ʼn gemiddeld van 40% is
egter te laag om van enige waarde in die beroepswêreld of as voorbereiding vir tersiêre
studies te wees. Die feit dat die slaagpunt so laag is, veroorsaak ʼn verlies aan vertroue in die
standaard van alle matrikulante se kwalifikasies, selfs dié wat goeie punte behaal.
Die waarde van ʼn matrieksertifikaat wissel nie slegs volgens die gemiddelde punt wat behaal
word nie, maar ook volgens die vakke wat geneem is. In die geval van sommige van die
“maklike” vakke is daar elke jaar haas geen druipelinge nie. Dit dui daarop dat die inhoud,
vraestelle en/of assessering van die betrokke vakke op so ʼn lae standaard is dat ʼn slaagpunt
geen aanduider van werklike aanleg of vaardigheid in die betrokke vakgebied is nie, ongeag
die punt wat behaal is. Een van die redes daarvoor dat soveel mense met matrieksertifikate
sukkel om werk te kry, of min verdien indien hulle wel werk kry, is dat hulle nie die regte
vakke geneem het nie of nie die vereiste standaard in die regte vakke behaal het vir die
sertifikaat om aan te toon dat hulle werklik iets nuttigs tydens hul skoolloopbane aangeleer
het nie.
19
Die volgende tabel illustreer die dilemma. Dit toon ʼn basiese vakkeuse vir ʼn matrikulant,
asook die persentasie van 2014 se matriekkandidate wat die vakke geneem het en dit op die
30%- en 40%-vlakke geslaag het. Die persentasies in vetdruk toon op watter vlakke ʼn
matrikulant watter vakke moes slaag om ʼn matrieksertifikaat te verwerf.
Vakkeuses % voltydse kandidate wat in 2014 met 30% of hoër geslaag het
% voltydse kandidate wat in 2014 met 40% of hoër geslaag het