Top Banner
Inleidingspreek Van wanhoop na hoop Bybelgedeeltes: Lukas 22:36-46; Handelinge 2:22-36; 4:19-20; 1 Petrus 1:3-9. Ons … kyk anders omdat ons glo. leef anders omdat ons glo. is anders omdat ons glo. Die sanger Joe Black sing ʼn lied met die titel “Bring die hoop weer terug”. Hy begin sy lied só: Hoop, wat is hoop? Dis die wens dat die son weer opkom Hoop, wat is hoop? Dis dat vrede by ons uitkom Hoop, dis die samesyn voor ʼn wêreldbeker-eindstryd Hoop, dis die taal van ʼn hart Dis die gees van ʼn man wat uitskree Bring die hoop weer terug Ek dink nie ek is verkeerd as ek sê die meeste van ons voel vandag effens sonder hoop nie. Ons hoop het seergekry. Ons hoop is min. Daar is natuurlik baie faktore wat dit veroorsaak. Kyk maar na die nuus; kyk maar na die ekonomie en die situasie in ons land; kyk maar na die situasie in jou huis of by jou werk. Die afgelope tyd is ons so gebombardeer met negatiewe, hartseer en hooplose verhale dat ons eenvoudig soms voel ons het geen hoop meer oor nie. Ek weet nie of jy dalk al langs die siekbed van ʼn ouer of ʼn kind met kanker moes staan nie. Die hele tyd hoop jy, wens jy, glo jy, bid jy. Soms is daar opflikkerings wat jou hoop sterker maak; ander kere gebeur daar dinge wat jou hoop dreineer. En dan breek die oomblik aan wat al jou hoop wegneem. Die een oor wie jy solank gehoop het, die een vir wie jy so lank gebid het, sterf. Jou hoop loop eenvoudig uit jou uit totdat daar niks meer oor is nie. Hoop het jou die hele tyd aan die gang gehou, jou laat
24

ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Apr 19, 2019

Download

Documents

hoangmien
Welcome message from author
This document is posted to help you gain knowledge. Please leave a comment to let me know what you think about it! Share it to your friends and learn new things together.
Transcript
Page 1: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

InleidingspreekVan wanhoop na hoop

Bybelgedeeltes: Lukas 22:36-46; Handelinge 2:22-36; 4:19-20; 1 Petrus 1:3-9.

Ons …kyk anders omdat ons glo.leef anders omdat ons glo.is anders omdat ons glo.

Die sanger Joe Black sing ʼn lied met die titel “Bring die hoop weer terug”. Hy begin sy lied só:

Hoop, wat is hoop?Dis die wens dat die son weer opkom Hoop, wat is hoop?Dis dat vrede by ons uitkomHoop, dis die samesyn voor ʼn wêreldbeker-eindstryd Hoop, dis die taal van ʼn hartDis die gees van ʼn man wat uitskree Bring die hoop weer terug

Ek dink nie ek is verkeerd as ek sê die meeste van ons voel vandag effens sonder hoop nie. Ons hoop het seergekry. Ons hoop is min. Daar is natuurlik baie faktore wat dit veroorsaak. Kyk maar na die nuus; kyk maar na die ekonomie en die situasie in ons land; kyk maar na die situasie in jou huis of by jou werk.

Die afgelope tyd is ons so gebombardeer met negatiewe, hartseer en hooplose verhale dat ons eenvoudig soms voel ons het geen hoop meer oor nie.

Ek weet nie of jy dalk al langs die siekbed van ʼn ouer of ʼn kind met kanker moes staan nie. Die hele tyd hoop jy, wens jy, glo jy, bid jy. Soms is daar opflikkerings wat jou hoop sterker maak; ander kere gebeur daar dinge wat jou hoop dreineer. En dan breek die oomblik aan wat al jou hoop wegneem. Die een oor wie jy solank gehoop het, die een vir wie jy so lank gebid het, sterf.

Jou hoop loop eenvoudig uit jou uit totdat daar niks meer oor is nie. Hoop het jou die hele tyd aan die gang gehou, jou laat opstaan, jou laat teruggaan. Maar nou is jou hoop ook dood en dit voel vir jou jou energie en krag het daarmee saam verdwyn.

Hoop is baie kragtig. Die skrywer GK Chesterton het gesê: “There is no medicine like hope, no incentive so great, and no tonic so powerful as expectation of something better tomorrow.”

En Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word gedoen deur hoop.”

Hoop is die soeke om iets wat vir mense onmoontlik is moontlik te maak. Vir baie mense is hoop soos ʼn wens of ʼn begeerte dat iets wat onmoontlik lyk moontlik sal word. Die probleem is net, as dit nie moontlik is nie, verloor ons ons hoop.

Page 2: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Ons beleef nou iets hiervan in ons land. Om elke braaivleisvuur en in elke tafelgesprek hoor ons hoe hooploos ons mense is. En nie sommer enige mense nie, maar gelowige mense. Ons praat selfs in die gange van die kerk oor hoe donker en onseker die toekoms is. Vir baie van ons gee ons toekomsvoorsiening en beleggings en planne darem nog ʼn bietjie hoop, maar vir vele ander, vir ons kinders, vir ons land en selfs vir ons kerk het ons nie meer baie hoop nie

Ons is nie die enigstes wat so voel nie.Die dissipels, die mense wat dag en nag saam met Jesus geloop, geëet, gedrink en gekuier

het, het ook op hoopverloor se vlakte gaan sit. Toe Jesus sterf, het hulle geglo dat Hy dood was. Ná al die wonderwerke, die gesprekke en die gelykenisse wat hulle self gesien en gehoor en beleef het, het hulle geglo Hy was dood. Al wat hulle nog kon glo, was dat Hy ʼn goeie spreker, selfs ʼn goeie entrepreneur van geloof was. Maar nou was Hy dood.

As iemand destyds ʼn onderhoud met hulle sou gevoer het, sou dit seker só geklink het: “Wat glo jy oor Jesus, Petrus?”“Wel, wanneer ek nou ná sy dood terugkyk, was Hy dalk net ʼn goeie prediker. Ons het Hom

soveel keer gewaarsku, maar Hy wou nie stilbly nie. Ons het hom gewaarsku om weg te bly uit Jerusalem. Hy het sy eie kop gevolg en nou is Hy dood!”

“En wat glo jy, Johannes?”“Ons het so gehoop Hy is waarlik die Messias. Maar duidelik was Hy nie. Hy is dood.”Ná Jesus se dood het hulle alle geloof en alle hoop verloor dat Jesus waarlik die Seun van

God is.“Andreas, Tomas, wat glo julle?” “Ons het so gehoop dit is waar, maar ons glo nie meer Hy was die Seun van God nie. Hy is

dood. Jupiter en Mars het gewen. Die gode van die Romeine het gewen. Jahwe het verloor. Jesus was nie die Messias nie. Ons het so gedink, so geglo, maar ons was verkeerd. Hoe weet ons dit? Hy is dood.”

Jesus se volgelinge het hulle geloof verloor toe Hy gesterf het.Moet dit nie miskyk nie. Dié mense wat die heel beste Jesus geken het, wat elke dag by Hom

was, wat later sy lewensverhaal vir ons oorvertel het, het ná sy dood nie geglo wat baie van ons vandag oor Jesus glo nie. En hulle het Hom persoonlik geken. Want toe Jesus sterf, het hulle geglo Hy is vir altyd dood.

Ons lees in Lukas 23:48-49: Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Dink jou ʼn oomblik in die dissipels se situasie in. Dit weerspieël die gevoel wat baie van ons vandag ervaar. Vir baie van ons voel dit of ons land al hoe meer vernietig word; ons plase word afgevat; ons kinders het nie meer ʼn toekoms nie. Baie van ons het ons hoop verloor.

Dit is in tye soos hierdie dat ons verslae is en soos die dissipels vra: “Waar is Jesus? Wanneer kom Hy weer? Is Hy dan werklik dood?”

Dit is egter in tye soos hierdie dat ek bly is ek is ʼn Christen. Ek is bly ek is deel van die groepie verslae en hooplose dissipels wat op Golgota na die kruis gestaar het. Want ʼn paar dae later, ʼn paar weke later, het hierdie selfde groep swakkelinge en lafhartige gelowiges, wat vir Jesus verraai en van Hom af weggedraai het, die strate van Jerusalem ingevaar en begin preek.

Page 3: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

En wat het hulle verkondig? Nie wat Jesus hulle alles geleer het nie; nie sy gelykenisse of sy saligsprekinge nie. Nee, luister …

“Israeliete, luister na hierdie woorde!“God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders

en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.

“God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Hy is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort. Dit is wat julle nou sien en hoor.

“Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”– Handelinge 2:22-24, 32-36

Hulle het uitgegaan en vier uitsprake gemaak:1. Julle het Hom doodgemaak. 2. God het Hom opgewek.3. Ons het Hom gesien.4. Sê julle is jammer.

Dit was hulle hele boodskap. Hulle het nie oor Jesus se reëls of strategieë gepraat nie. Twintig jaar later was Paulus in Atene (Hand 34:45) en hy het steeds oor Jesus gepraat. Die mense het gedink dit is ʼn nuwe godsdiens en het hom na die Areopagus geneem. Daar het Paulus hulle vertel dat God het iets vir alle mense gedoen het. Toe vertel hy vir hulle van Jesus. En nie Jesus se gelykenisse of saligsprekings nie; nee, Paulus vertel vir hulle dat God iets in hulle midde gedoen het en toe ook vir hulle die bewyse daarvan gegee: Weet jy waarom het die kerk die eerste eeu oorleef? Weet jy waarom ons hier is? Weet jy waarom ons glo? Weet jy waarom ek ʼn Christen is? Weer jy waarom jy ʼn Christen behoort te word? Weet jy hoekom jy werklik diep moet nadink en die Christelike geloof moet aanneem?

Want toe Jesus dood is, het niemand geglo nie. Nie een van Jesus se volgeling het meer geglo Hy is die Messias nie. Niemand het as helde opgestaan nie. Al die saints het weggehardloop en opgehou glo. Hulle almal het hulle geloof verloor, hulle getuienisse oor hulleself en oor mekaar.

Maar toe sien hulle Hom. Hulle kon dit nog nie glo nie, maar hulle het waarlik die opgestane Redder en Verlosser gesien. Op daardie oomblik het iets binne-in hulle gebeur. Hulle is verander. Vir die eerste 20 tot 40 jaar van die kerk se bestaan was hulle boodskap presies dieselfde.

Page 4: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

God het nie net iets gesê vir belangrike mense nie. God het iets gedóén vir die héle wêreld – Hy het iemand uit die dood opgewek. Hy het sy Seun, die Messias, uit die graf laat opstaan.

En hierdie selfde God wat vir Jesus Christus uit die dood opgewek het, heers vandag oor my en jou lewe, oor ons land, oor ons plase, oor ons finansies, oor ons kerk, oor ons kinders en oor die heelal. Weet jy hoekom het soveel mense in die tyd van die vroeë kerk tot bekering gekom? Weet jy hoekom het soveel mense hulle denke verander en besluit om hulle lewe vir Jesus

te gee?

Want dié wat getuig het oor wat hulle gesien het, se geloof was so oortuigend. Die kerk is nie gevestig op grond van ʼn boek of ʼn klomp leerstellings nie. Nog minder as ʼn goeie oplossing vir al ons probleme. Die kerk het opstaan omdat ons Verlosser opgestaan het. Die mense wat weggehardloop en opgehou glo het, het teruggekom en gesê:

“Ons het dit met ons eie oë gesien. Julle kan ons ook maar doodmaak, maar ons sterf nie vir wat ons glo nie. Ons is bereid om te sterf vir wat ons werklik gesien het – die opgestane Verlosser, Jesus” (vgl Hand 4:19-20).

Ons as volgelinge van Jesus Christus glo nie vandag omdat die toekoms van ons land vir ons beter lyk as vir ander mense nie. Nog minder glo ons omdat ons dink die Here gaan ons bevoordeel bo ander wat meedoen aan korrupsie, uitbuiting en marginalisering. Ons glo ook nie omdat die Bybel so sê nie. Ons glo op grond van ander se getuienis oor Jesus. Ons glo wat Matteus en Markus oor Jesus geskryf het. Ons glo wat Johannes en Jakobus oor Hom geskryf het. Watter oortuigingskrag moet jy hê om jou eie broer te oortuig jy is die Seun van God? Jakobus het opgestaan en gesê: “My broer is my Verlosser en Heer.”

Hulle het gesien hoe Jesus gesterf het, maar ʼn paar dae later het hulle die opgestane Here self gesien.

Petrus, wat vroeër soos ʼn lafaard weggehardloop het, getuig voor 3 000 mense hoe hy tot geloof gekom het. Hy skryf:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ʼn lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ʼn kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ʼn onuitspreeklike en heerlike blydskap.– 1 Petrus 1:3-10

Page 5: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Paulus, wat Jesus se volgelinge wou doodmaak, skryf 20 jaar later hy glo Jesus het waarlik uit die dood opgestaan – slegs op grond van die getuienisse van dié wat Jesus ná sy dood gesien het, die getuienisse van dié wat die naaste aan Jesus was.

Jy glo dit dalk nie as ek vandag vir jou sê God is besig om ons wanhoop in hierdie wêreld in hoop te omskep nie. Jy glo dalk nie dat God selfs in hierdie krisistyd wat ons nou beleef en in die ernstiger krisisse wat dalk nog vir ons voorlê sy koninkryk, sy mag en sy heerlikheid vir ons sal wys nie.

As ek en jy na ons omstandighede kyk, sal ons beslis hoop verloor; ons sal ons geloof verloor, en daarmee sal dalk selfs ons God. Maar as ons ons oë op die leë graf, op die opgestane Verlosser, Jesus Christus, hou, sal ons in 2019 weer hoop ontdek. ʼn Hoop waaroor ons nie sal kan stilbly nie, ʼn hoop waarvoor ons selfs bereid sal wees om te sterf.

Met die reeks Van wanhoop na hoop wil ons jou help om jou visie, jou uitkyk op die lewe, na die opgestane Christus te verskuif. Ons wil jou help om deur sy oë na jouself en die wêreld rondom ou te kyk en God toe te laat om hierdie wêreld, hierdie mooi land, jou plaas, jou werk, jou gesin, jou lewe deur jou te verander.

God wil ons nie by die kruis los nie. Hy het Jesus uit die dood opgewek. Jesus lééf.Wanneer ons God anderkant die kruis ontdek, kry ons weer hoop in die swaarkry waardeur

ons nou moet gaan. Wanneer ons bid, kan ons glo dat God ons gebede verhoor, want Jesus, die opgestane Verlosser, het ons belowe wanneer ons bid, hoor God ons gebede. Ons kan dit glo.

Ons kan glo in die ewige lewe en in die hemel, nie omdat die Bybel so sê nie, maar omdat Jesus deur sy hele bediening heen oor die koninkryk van die hemel gepraat het. En hierdie boodskap is saam met Hom dood, maar dit is ook saam met Hom uit die dood opgewek.

Dit beteken wanneer jy deur ʼn moeilike tyd gaan, hoef jy nie bekommerd te wees nie. Jesus het gesê jy sal moeilike tye beleef, maar jy kan moed hou, want Hy, Jesus, het die wêreld reeds oorwin. Dit het vir die dissipels niks beteken toe hulle Jesus aan die kruis sien doodgaan het nie, maar dit het vir hulle alles beteken toe hulle Hom uit die dood opgewek gesien het.

In Jesus Christus het God hoop vir die wêreld teruggebring.Omdat ons in Jesus glo … … kyk ons anders na die wêreld.… leef anders in die wêreld.… is ons anders in die wêreld.Jy kan dit glo.

Page 6: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 1Van vrees na vrede

Bybelgedeelte: Lukas 22:39-53.

Eksegese Lukas se weergawe van hierdie verhaal verskil van Markus en Matteus sʼn in die volgende

opsigte:o Lukas dui nie die plek as Getsemane aan nie, heel moontlik weens sy tendens om

plekname en terme weg te laat wat nie aan die breër gemeenskap van sy lesers bekend sou wees nie.

o Net hy vermeld die oproep van Jesus dat die dissipels sal bid om versoeking te weerstaan.

o Dit is ook net Lukas wat daarna verwys dat Jesus die man wie se oor afgekap is, genees het.

o Net Lukas verwys in vers 43-44 na die engele wat Jesus versterk het. Die rede vir ons keuse vir die Lukas-teks is sy verwysing na Jesus se angs soos hy dit in vers

44 beskryf. Lukas vestig in vers 39, soos op ander plekke in sy Evangelie, die aandag op die inisiatief wat

Jesus in die gebeure neem. Die temas van gebed en versoeking kom gereeld voor in Lukas; daarom hoef ons Lukas se

verwysings in vers 40 en 46 nie vreemd te vind nie. Dit is interessant dat die normale gebedshouding van daardie tyd ʼn staande posisie was. Die

feit dat Jesus kniel om te bid is reeds ʼn aanduiding van die intens emosionele spanning wat Hy beleef het.

ʼn Ander tema van Lukas wat hier na vore kom, is Jesus se bewustelike vervulling van en gehoorsaamheid aan God se wil (v 42).

Oor Jesus se versoek dat die beker van Hom af weggeneem sal word, word die volgende opmerking gemaak: “But to shrink from a painful death is not necessarily cowardice; the highest bravery may consist in being fully cognizant of impending and agonizing death and yet to embrace it voluntarily.”

In verband met die term beker in vers 42,word ons daaraan herinner dat dit dikwels in die Ou Testament as metafoor gebruik word vir die toorn van God oor die sonde (Ps 11:6; 75:8; Jes 51:17; Jer 25:15-17).

Vers 47 vertel van die skielike aankoms van Judas en ʼn menigte mense, al het Jesus hulle verwag. “… terwyl Jesus nog praat.” Dit verbind hierdie perikoop aan die vorige een.

In vers 48 konfronteer Jesus vir Judas oor die manier waarop hy vir Jesus uitlewer. ʼn Soen was ʼn “intieme” simbool van broederskap en omgee, en dit terwyl Judas en Jesus albei geweet het in Judas se gedagtes was daar allesbehalwe kameraadskap en ondersteuning. Verder maak al drie die Evangelies melding van die feit dat Judas een van die Twaalf was.

Hierna vind die insident plaas waar een van die dissipels, Petrus volgens Johannes 18:10, die hoëpriester se slaaf se oor afkap, waarna Jesus hom genees het. Let op dat almal wat saam met Jesus daar was – sy dissipels – die swaard wou opneem om hulle te beskerm.

Page 7: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

In vers 51 bestraf Jesus die vergrype aan geweld en genees die man se oor. In vers 52 verwys Lukas spesifiek daarna dat dit die godsdiensleiers was wat opgeruk het om

Jesus gevange te neem. Jesus bring hulle onderduimsheid aan die lig met sy woorde in vers 52.

Dogmatiek Die leer oor die Persoon Jesus se twee nature is van groot belang in ons nadenke oor ons

tema vanuit die teksgedeelte. Dit is belangrik om die hoorders van die boodskap duidelik te laat besef dat Jesus óók as

mens geleef, gely en gesterf het. Die angs wat Hy beleef het, was nie ʼn “ander” angs as wat ons as mense beleef nie.

Lees gerus Heyns se Dogmatiek (bl 239-247) en/of Migliore se Faith Seeking Understanding (hfst 8) as jy jou gedagtes hieroor wil verfris.

Die volgende kort kommentaar van John McArthur op Lukas 2:52 bied toepaslike insig in die persoon en karakter van Jesus Christus: “Jesus did not cease being God or divest Himself of divine attributes in order to become man. Rather, He took on a human nature (an addition, not a subtraction), and submitted the use of His divine attributes to the will of the Father (Jn 5:19, Jn 5:30; Jn 8:28; Php 2:5-8). Therefore, there were times when His omniscience was on display (Mt 9:4; Jn 2:24-25; Jn 4:17-18; Jn 11:11-14; Jn 16:30) and other times when it was veiled by His humanity in accordance with the Father’s will (Mk 13:32). Christ was therefore subject to the normal process of human growth, intellectually, physically, spiritually, and socially. See note on Mark 13:32.”

Preekriglyn

InleidingHier is ʼn paar voorstelle om jou kreatiewe denke te prikkel: Wys ʼn angswekkende toneel uit ʼn fliek wat jou gemeente nie as traumaties sal beleef nie. Vertel van ʼn keer toe jy self groot angs beleef het, of die verhaal van ander mense se angs

waarmee jou gemeentelede hulle sal kan vereenselwig. Maak gebruik van teologiese en/of mediese verklarings van Lukas 22:44 om die aard van

Jesus se angs aan die gemeente te beskryf. Verwys na die verskeie aspekte van ons daaglikse lewe wat angs en vrees by ons as mense

veroorsaak: misdaad, werkverlies, spanning in ons huwelike, besorgdheid oor ons kinders en geliefdes, gesondheid en terminale siektes, droogtes, politieke onsekerheid, die grondkwessie en swak ekonomiese vooruitsigte.

Oorgangsin: Angs en vrees laat ons dikwels voel asof ons bitter alleen is, heeltemal op ons eie aangewese, en dat nie eens die hemelse Vader naby aan ons is om ons te help óf dat Hy enigsins van ons kennis neem nie.

Boodskap Jesus se angs as mens word in hierdie Skrifgedeelte belig deur:

o die wete dat Hy verloën gaan word (Luk 22:14-23, 34, 37).

Page 8: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

o sy versoek in vers 42 dat sy Vader “hierdie beker” van Hom af sal wegneem. Brei gerus uit oor die betekenis van “beker”.

o sy sweet wat soos bloeddruppels op die grond val; dit is een van die mees intense beskrywings van Jesus se angs.

o die dissipels wat weens hulle eie droefheid dit nie regkry om saam met Jesus te waak en te bid nie.

As mens, as een van ons, het Jesus intense vrees en angs beleef; meer nog, sy angs het op ʼn ander, dieper vlak gelê. Hy, as sondelose mens wat in ʼn baie hegter verhouding met sy Vader geleef het, is gekonfronteer met sy volgelinge wat Hom in die steek gelaat het, met verwerping, verloëning, marteling en die dood. Jesus word met hierdie angs en vrees gekonfronteer juis omdat Hy die Seun van God is wat in gehoorsaamheid die wil van sy Vader doen.

As mens beweeg Jesus weg van die plek van angs en vrees in sy lewe na ʼn plek van vrede, vrede wat in sy gemoed heers en vrede wat na buite straal, vrede wat Hom toelaat om beheer van sy situasie te neem.

Ons sien dit in sy hantering van Judas en die geestelike leiers (v 48). Ons sien dit in Jesus se hantering van sy dissipels (v 51). Ons sien dit in Jesus wat een van sy teenstanders se oor aanraak en hom genees (v 51). Jesus vind vrede te midde van sy vrees, sonder dat die omstandighede wat die vrees

veroorsaak, verander. Hy vind vrede omdat Hy bewus word van sy Vader se versterkende en bemoedigende teenwoordigheid ten spyte van sy omstandighede en sy vrese.

Toepassing Laat jou hoorders hulle met Jesus se angs en vrees vereenselwig deur hulle daarop te wys

dat die vrees en angs wat hulle beleef hulle werklikheid is, dat ons nie letterlik na Getsemane hoef te gaan om ʼn Getsemane-ervaring te hê nie. Die Getsemanes van die lewe kom soek ons op en speel in ons leefwêrelde af.

Verwys na die feit dat diep gelowige mense ook vrees en angs beleef en dat dit nie ʼn teken van ongeloof of ʼn swak geloof gesien moet word nie.

Toe Jesus sy vrees en angs erken en Hom in gebed en met smeking tot die Vader gewend het, het Hy vir ons die pad oopgemaak om ons vrees te erken en na die Vader daarmee te gaan.

Deur in gebed tot die Vader te nader kies Jesus om bewus te word van God se teenwoordigheid. Daar in Getsemane, op die vooraand van sy gevangeneming, kies Jesus om te sê: “My Vader is hier teenwoordig.”

Jesus wend Hom nie net in ʼn hulpkreet tot die Vader nie; Jesus stel Hom ook ondergeskik aan die Vader se wil. Jesus bevestig sy toewyding om in gehoorsaamheid aan sy Vader te leef en getrou aan sy roeping te bly.

Jesus Christus se oorwinning, nie net aan die kruis nie, maar ook te midde van sy angs en vrees daar in Getsemane, help ons wat in vrees en met angs leef om ons vrees te oorwin.

Slot In die nagmaalsformulier staan daar dat ons daaraan moet dink dat Jesus van God verlate

was sodat ons nooit van God verlaat sal wees nie.

Page 9: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Ongeag hoe groot die aanslag op ons lewe, ons geluk of ons vrede is, ongeag hoe angstig sekere aspekte van die lewe ons maak …o God is in ons lewe (alom)teenwoordigo Jesus Christus was gehoorsaam tot in die dood aan die kruiso God se plan met ons elkeen se lewe te midde van vreesaanjaende omstandighede roep

ons op om ten spyte van ons vrees vanuit sy vrede en met sy vrede in die wêreld te leefo om weg te beweeg van ʼn lewe van vrees na ʼn lewe wat vrede bring.

Page 10: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 2Van toe deure na oop vensters

Bybelgedeelte: Daniël 1.

Ons oorhoofse tema is: van wanhoop na hoop. ʼn Wanhopige situasie of gebeurtenis in ons lewe word met Christus se ingrype omgekeer in ʼn situasie waarin hoop oorwinning vier.

Daar is verskeie gebeure in ons lewe wat hierdie “van wanhoop na hoop”-ervaring inkleur. Een daarvan is wanneer een deur voor ons toegaan, maar in die plek daarvan maak God ʼn ander deur vir ons oop.

Wanneer ʼn deur in ons lewe skielik toeslaan, voel dit gewoonlik vir ons of die grond onder ons voete meegee, asof die wêreld vir ons vergaan. Ons beleef ʼn toe deur so intens dat ons in ʼn put van wanhoop inval en heeltemal perspektief verloor. Maar dis oukei. Ons mag maar op daardie oomblik so voel. Dis net logies dat ʼn mens sal voel asof alles tot ʼn einde gaan kom. Omdat ons kinders van God is, weet ons egter God sal ons nie in daardie put los nie.

Maar voordat ons by die hoop kom, kom ons gesels eers oor die inhoud van ʼn toe deur.Kom die gesegde “toe deur … oop venster” of “toe deur … oop deur” voor in die Woord van

God? Nee, glad nie. Daar is wel verskeie verse in die Bybel waarin die opdrag gegee word om ʼn deur agter iemand toe te maak om die begrensing van die oomblik aan te kondig, of om afsluiting of uitsluiting aan te kondig.

Wat ons hieruit leer, is dat ʼn toe deur ʼn baie spesifieke boodskap oordra. Dit bring ons by die vraag: Wat is hierdie spesifieke boodskap? Hoekom gaan deure toe? Ons gaan na vier redes kyk om dit vir ons duideliker te maak hoekom ʼn deur soms toegaan.

1. Dit is tyd om aan te beweegDit gebeur dikwels, veral in die sakewêreld, dat ons ʼn punt bereik waar ons ontdek dat die metodes wat nog altyd gewerk het nie meer goeie – indien enige – resultate lewer nie. Eers verwar dit ons effens en ons probeer maar weer dieselfde werkwyse, net met ʼn nuwe baadjie. Maar later ontdek ons ons het nie een tree gevorder nie. Dit kos ons natuurlik verliese, wat ons dan dwing om vir onsself te sê: “Die werkwyse wat ons volg, is uitgedien.” Die deur vir daardie metode het toegegaan. Dis tyd vir nuwe metodes. Dis tyd om aan te beweeg.

2. Die plek waar jy is, is nie tot jou voordeel nieDink aan ʼn verhouding wat vernietigend is. Iemand mishandel sy of haar lewensmaat. Jy werk vir ʼn maatskappy wat oneerlike metodes gebruik om geld te maak. Hulle verwag dat jy hieraan sal meedoen of ten minste daaroor sal stilbly. Die deur gaan toe omdat jy nie deel van hierdie wanpraktyke wil wees nie.

3. God wil jou koers veranderDit gebeur soms dat die koers waarin jy beweeg jou van God af wegtrek. God maak dan die deur na daardie koers toe om jou te red. Jy is dalk in jou beroep so sterk daarop gefokus om sukses te bereik dat jy van God vergeet. Dit is dan dat God ʼn deur voor jou sal toemaak. En meer spesifiek die een deur wat jy nodig gehad het om jou leer van sukses met welslae te klim.

Page 11: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

God maak daardie deur toe omdat jou geestelike welstand vir Hom belangriker is as jou aardse behoeftes.

4. Die onreg wat ander doenDaar is soveel verhale van mense wat hulle werk of eiendom verloor het weens die onreg wat ander hulle aandoen. Jy verloor dalk jou werk omdat iemand anders die pos waarin jy is, wil hê en die nodige toutjies trek om jou uit jou pos te verwyder. Jy word dalk weggevoer uit jou grondgebied weens die sondes van ander. Dit is wat met Daniël en sy drie vriende gebeur het.

Lees Daniël 1.

Daniël, Gananja, Misael en Asarja was godvresende jongmense. Dit kan ons aflei uit die Bybelteks. Hulle het God vertrou en Hom vreesloos as die enigste ware God aanbid. Tog word hulle saam met hulle medeburgers weggevoer uit die land wat God aan hulle voorgeslagte gegee het.

Hulle was nie skuldig aan die sondes van hulle landsgenote nie. Hulle het nie agter ander afgode aangegaan soos baie Israeliete gedoen het nie. Maar hulle word ook in ballingskap weggevoer. Die deur wat al die jare vir hulle wawyd oop gestaan het, het skielik vir hulle toegeslaan. Nou sit hulle in ʼn vreemde land met ʼn vreemde kultuur, vreemde gode en ʼn nog vreemder koning.

Wat ʼn wanhopige situasie! Hulle is weg van alles en almal wat hulle geken en liefgehad het. Hulle dra die gevolge van ander se sondes. Die deur van die lewe, het hulle sekerlik gevoel, het in hulle gesigte toegeklap.

Wat hierdie verhaal so besonders maak, is nie die deur wat vir Daniël en sy vriende toegegaan het nie, maar wat daarna gebeur het.

Kom ons kyk na ʼn snit uit die film The sound of music om ons in te lei in die gebeure (The sound of music: When the Lord closes one door he opens a window – https://www.youtube.com/watch?v=a6g4dvvikze).

Wat met Maria gebeur het, het haar laat voel daar het ʼn deur voor haar toegegaan, maar dat God vir haar ʼn venster oopgemaak het. ʼn Venster is nie ʼn deur nie. ʼn Venster is redelik beperk in vergelyking met ʼn deur, maar dit is ʼn goeie begin.

ʼn Oop venster laat my dink aan die uitdrukking wat veral in die sakewêreld gebruik word: “a window of opportunity”. ʼn Tydgleuf vir ʼn geleentheid. Wanneer die Here vir ons ʼn tydgleuf vir ʼn geleentheid gee, moet ons dit met albei hande aangryp.

Ek wil dit soos volg verduidelik. Daar is so baie flieks wat gaan oor ʼn bank of ʼn museum wat beroof word. Wanneer die rooftog suksesvol afgehandel is, moet die rowers ontsnap. Die veiligste en vinnigste ontsnappingsroete is deur die lugtoevoerkanale in die dak. Natuurlik maak die gebou gebruik van enorme waaiers om die lug te sirkuleer. En natuurklik word die storie só geskryf dat die waaier op ʼn sekere tyd in sy siklus vir net een minuut tot stilstand kom. Dit is hierdie een minuut wat die rowers het en moet gebruik om veilig uit die gebou weg te kom.

Wanneer God ʼn geleentheid skep, is daar ʼn tydsbeperking op. Ons tydsberekening moet hierdie “window of opportunity” wat vir ons oopgaan in ag neem.

Page 12: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Dit is presies wat Daniël en sy vriende gedoen het. Toe die venster vir hulle oopgaan, het hulle die geleentheid aangegryp. Hulle het vir die hoofpaleisbeampte te vra om nie vir hulle van die kos te laat eet wat van die koning se tafel kom nie.

In vers 9 lees ons dat God die hoofpaleisbeampte gunstig en simpatiek teenoor Daniël gemaak het.

En vers 15 lees ons dat hulle ná 10 dae mooier en gesonder was as die jongmanne wat van die koning se kos geëet het.

Daniël en sy vriende het van ʼn geleentheid gebruik gemaak wat hulle in ʼn gunstige posisie geplaas het.

Om so ʼn tydgleuf te benut, noem ons ʼn geloofsprong. Die geloof dat God sal voorsien, gee aan Daniël en sy vriende die moed om die hoofpaleisbeampte te nader en te vra dat hulle ander kos as die ander kan eet. Omdat hulle in God glo en op Hom vertrou, maak Hy vir hulle die deur oop – eers na die welwillendheid van die hoofpaleisbeampte en dan na die koning self.

Vanuit ʼn hooplose situasie beweeg hulle na hoop. Van ballinge in ballingskap na dienaars in die koning in die paleis.

Dit gaan nie daaroor hoe ons val of oor die hoe en die wat van ʼn toe deur wat ons in ons geloof opvallend maak nie; dit gaan oor hoe ons herstel van die harde val of die toe deur wat ons anders maak.

Daniël, Gananja, Misael en Asarja het in God geglo. Hulle geloof het hulle gered. Omdat hulle geglo het, wou hulle nie van die onrein kos eet nie. In geloof het hulle ʼn oomblik wat God geskep het, benut.

Hulle geloof in God het hulle in hierdie wanhopige omstandighede gered. Wanneer daar vir ons ʼn deur toegaan, wat die rede daarvoor ook al mag wees, beleef ons ʼn

oomblik van wanhoop. Ons leer egter uit Daniël se verhaal dat God nooit sy kinders in die steek laat nie. Daniël en sy drie vriende het nie in ballingskap beland weens hulle eie oortredings nie, maar as gevolg van ander se oortredings. Wat hulle omstandighede vir hulle nog slegter gemaak het. Maar God het Hom weer eens as getrou bewys deur hulle in hierdie slegte omstandighede van wanhoop na hoop te dra.

God gaan selfs verder en gee vir hulle guns by die koning. God maak vir hulle ʼn deur oop om van God se almag teenoor koning Nebukadnesar te getuig.

As ons in ons omstandighede ons oë op God gevestig hou, sal ons ontdek dat God ons oë oopmaak vir die geleenthede wat Hy vir ons skep om uit ons omstandighede te kom.

Jesus is ons hoop op die heerlikheid. Hy is ons hoop dat ons die oorwinning oor ons omstandighede sal behaal.

In Romeine 8:38-39 lees ons: “Hiervan is ek oortuig, geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte, of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” En Romeine 8:32 sê: “Hy het sy Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”

Jesus is God se geliefde Seun, sy alles. En God het Hom vir ons gegee. Om dan vir ons ʼn nuwe en dalk beter deur oop te maak, is mos dan geensins vir God onmoontlik nie.

Ons kan met ons leë bakhande van geloof voor God gaan staan en Hom herinner aan sy belofte in Romeine 8:32 dat Hy al die ander dinge vir ons sal byvoeg.

Page 13: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

As God dit vir Daniël en sy vriende gedoen het, sal Hy dit vir ons doen. Die God van Daniël is ook ons God.

Wanneer ons voor ʼn toe deur staan, is daar ʼn rede voor. Ons kan niks verander aan die feit dat ʼn deur toegegaan het nie. Maar ons kan baie doen aan hoe ons die daaropvolgende gebeure in ons lewe hanteer. Dis nie hoe ons val wat tel nie, maar hoe ons opstaan. Dis nie watter deur toegaan wat belangrik is nie, maar hoe ons in ons geloof na God toe gaan met die volste vertroue dat Hy vir ons uitkoms sal gee. Dat Hy vir ons ʼn geleentheid sal skep en ʼn nuwe deur vir ons sal oopmaak. Dat God Drie-enig ons wanhoop in hoop sal omkeer.

Page 14: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 3Van uitgestoot na ingesluit

Bybelgedeelte: Markus 1:40-45.

PreeksketsMense wat uitgestoot word, wat verstoot word, wat uitgesluit word, wat verwerp word, se identiteit verander. Daar is talle redes hoekom mense uitgestoot, eenkant toe geskuif of verwerp word, maar in alle gevalle beïnvloed dit hulle identiteit. Dit gebeur omdat hulle posisie in die samelewing verander, wat weer hulle persepsie van hulleself beïnvloed. Hierdie mense kan voel mense, of selfs God, verstoot hulle. Hulle kan voel hulle word uitgesluit weens hulle optrede of menings, dat hierdie verwerping hulle eie skuld is. Dit beïnvloed hulle selfbeeld en identiteit in groot mate.

Lees Markus 1:40-45.

40Daar kom toe ʼn melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” 41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!” 42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.” 45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ʼn dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

In hierdie verhaal lees ons van ʼn man wat deur sy medemens verstoot is as gevolg van sy siekte. Melaatse mense is uit die gemeenskap verstoot, selfs deur hulle eie families, en moes buite dorpe en stede gaan bly. Hulle is nie meer as mense beskou nie, maar slegs as melaatses. Hulle identiteit het verander.

Tog, toe Jesus hierdie man ontmoet, het Hy heel eerste die man se menswees raakgesien. Jesus het verby die melaatsheid gekyk en die mens raakgesien. Jesus het geweet die man se identiteit hang nie af van sy siekte of sy gesondheid nie. Daarom het Hy aan die man geraak voordat Hy hom genees het.

Met die aanraking het Jesus self weerloos geword deur Hom aan die melaatsheid bloot te stel. Jesus het die man se situasie verstaan en saam met hom in sy situasie ingeklim. Só het Jesus Hom volkome met die man vereenselwig. Hierdie man kon weet Jesus het hom werklike verstaan.

Jesus het dié mense wat verstote en verwerp was, weer ingesluit en geliefd laat voel. Jesus het heel eerste hulle menswees genees voordat Hy hulle liggaamlik genees het. Jesus het

Page 15: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

hierdie man se identiteit herstel voordat Hy hom gesond gemaak het. Sy identiteit is herstel en genees voordat Jesus vir hom enige liggaamlike genesing geskenk het.

Nadat Jesus die man se identiteit herstel deur aan hom te raak, het Hy die man liggaamlik gesond gemaak, vir die ander mense se onthalwe. Die mense van daardie tyd het die melaatses uitgesluit. Om hierdie man ʼn kans te gee om weer by die samelewing ingesluit te word, het Jesus hom genees. Hy het hom na die priesters toe gestuur sodat hy deur die gebruiklike proses na sy mense kon teruggaan.

Mense word vandag nog om verskeie redes uitgesluit en verstoot. Party mense word werklik uitgestoot. Hulle voel nie welkom in sekere lande, gemeenskappe of kerke nie. Ander mense voel net uitgesluit, party omdat hulle aansien verloor het en sommige omdat hulle nie reg opgetree het nie.

Jesus wil hierdie mense vandag weer ingesluit laat voel. Ons word daarom geroep om hulle welkom te laat voel. Jesus sluit in. Ons kan en moet dieselfde doen.

Page 16: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 4Lof in gebrokenheid

Bybelgedeelte: Psalm 34 (verwys na 1 Sam 21 waar Dawid hom kranksinnig gehou het toe hy by die Filistyne was)

In my gebrokenheid of weens my gebrokenheid gryp ek na die HereEk weet nie hoe die uitkoms gaan lyk nie, maar ek vertrou die Here daarvoor. In Dawid se geval (1 Sam 21) was die Here se uitkoms baie vreemd, maar Dawid het nooit getwyfel dat die Here op ʼn baie besonderse manier vir hom ʼn uitkoms sou gee nie. Dit was nie vir hom minder belangrik as die vorige kere toe die Here ingegryp het nie …

Wanneer mense swaarkry, is hulle geneig om die Here te verwyt. Hoe baie hoor ons dat mense hulle ongeloof verskoon deur te verwys na dié kere toe die Here hulle nie gehelp het nie. Die werklikheid is dat die Here juis wil help wanneer mense in ʼn krisis is of swaarkry, en dat Hy dit inderdaad ook doen. Sy hulp en uitkoms lyk egter soms anders as wat ons dit sou wou gehad het. Een ding weet ons egter vir seker: As ons swak is, is ons sterk. Die Here gee áltyd uitkoms, en Hy doen dit anders en beter as wat ons kon dink.

Mense word dikwels daarvan beskuldig dat hulle net na die Here roep wanneer hulle in die moeilikheid het. Dit lyk of dit die Here nie pla nie. Hy is soos ʼn pa wat sy kind altyd uit ʼn verknorsing sal help. Dit is nie vir hom moeite nie; dit is wat hy as pa wil doen. Dit is wat hom as pa kenmerk. Dit bring nederigheid en afhanklikheid na vore in die een wat hunker na uitkoms.

Ons gryp na die Here in ons gebrokenheid is ʼn belangrike geloofstap. Dit herinner ons hoe die Here in die verlede uitkoms gegee het en moedig ons dan aan om Hom te loof. Ons grype na die Here word ons lof.

Daar is baie verhale wat vertel van mense wat in groot eenvoud geleef het terwyl hulle koning in weelde geleef het. In sekere sin gee dit aan ons waardigheid en help ons om anders na ons swaarkry te kyk. Die koning se vooruitgang is dan eintlik ook ons vooruitgang. Deur hom beleef ons waarna ons streef.

Ons gebrokenheid maak God groter en sy uitkoms kosbaarder.Hoe swaarder ons kry, hoe meer glo ons dat God uitkoms sál gee. En ons begin reeds vanuit

hierdie uitkoms leef.

Page 17: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 5Vyande as vreemde vriende

Bybelgedeelte: Matteus 5:21-48.

Eksegese agtergrond Hierdie gedeelte staan bekend as die ses teenstellings in Jesus se woorde: “Maar Ek sê vir julle …” (5:22). Wat onderskei ons as dissipels van ander mense?

1. Moenie kwaad word nie, maak vrede.2. Huweliksontrou begin by jou oog.3. Egskeiding is ʼn uiterse ernstige saak.4. Wees mense van julle woord.5. Moenie wraak neem nie, wees inskiklik.6. Julle liefde moet sonder grense wees.

Matteus 5:43-48 sê: Julle liefde moet sonder grense wees.Hier bereik die teenstellings ʼn hoogtepunt. Al die ander teenstellings word saamgevat in die

woorde: “Julle moet julle vyande liefhê” (5:44).

PreeksketsWie is tans my vyand?

Of dalk beter gestel: Vir wie gee ek tans aanstoot of met wie stamp ek koppe?En hoekom sien hierdie persoon my as ʼn vreemdeling of ʼn vyand?Hoe kan ek regmaak, grense oorsteek en my kant skoon hou? (Die inisiatief moet by my

begin.)1. Begin bid vir daardie persoon, al het hy of sy jou aanstoot gegee. Gebed maak jou hart sag, nie bitter nie (Vaderhart, v 44). Probeer verstaan waarom die persoon só oor jou voel. Gaan staan in sy of haar skoene.2. Hoekom moet ek? (v 45). Ek is nie lus nie! ʼn Kind van die Here, ʼn dissipel van Jesus leef anders. Ons leef soos Jesus. Hy laat die son oor almal skyn. Steek grense oor. Daardeur wys ons ons is ware kinders van God en is ons getuies in die wêreld.3. Wat maak ons anders as die wêreld? Almal het mekaar lief, maar Jesus vra onvoorwaardelike liefde, ʼn liefde ten spyte van. Dit is God-liefde, anders as die wêreld se liefde. Dit maak nie saak wat mense aan ons doen nie, ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. Sy liefde dring ons na ons naaste toe, wat die hele wêreld insluit. Dit gaan dus oor God (v 46).4. Deur grense oor te steek en só lief te hê bewerk groei in ons elkeen. Wees volmaak (v 48). Niemand is perfek nie, maar ons kan daarna streef en groei om al hoe meer soos Christus te word, en nie al hoe meer soos die wêreld nie. Ons moet voortdurend geestelik groei en al hoe nader aan Christus se volmaaktheid kom. Ons weet ons kan nie dieselfde soort gedrag van ʼn baba, ʼn kleuter, ʼn tiener en ʼn volwassene verwag nie, en God verwag ook van ons die soort gedrag wat ooreenstem met die vlak van ons geestelike ontwikkeling. Dit beteken ons kan volmaak wees ten opsigte van ons vlak van volwassenheid. Maar dit beteken daar sal altyd vir ons baie ruimte vir ontwikkeling wees. Die feit dat ons geneig is om sonde te doen, mag ons

Page 18: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

nooit daarvan weerhou om soos Christus te probeer wees nie. Hy roep sy dissipels op om uit te blink, om bo die gemiddelde en middelmatige uit te styg en in alle opsigte volwasse te word, om soos Hy te word. Dié wat daarna streef om volmaak te wees sál eendag volmaak wees, net soos Christus volmaak is (1 Joh 3:2).

Kom ons steek grense oor en maak só die wêreld ʼn beter plek, ʼn plek waar daar ruimte en respek vir almal is. Só sal ons self ʼn ander gesig van God sien, sal ons God anders leer ken en meer van God ontdek.

Wenk: Speel Jim Reeves “A stranger’s just a friend you do not know”. Dit is beskikbaar op YouTube.

Page 19: ontdek.bybelmedia.org.zaontdek.bybelmedia.org.za/.../2018/...hoop-Voorlopige-Preekriglyne.docx · Web viewEn Martin Luther het geskryf: “Alles wat in die wêreld gedoen word, word

Week 6Van onvergenoegdheid na tevredenheid

Bybelgedeelte: Lukas 15:11-32.

God sorg vir genoegDie klem val deurgaans op God wat onvoorwaardelik alles gee wat ons nodig het. Ons sukkel dikwels om dit te verstaan omdat ons onvergenoegd is oor wie ons is, hoe ons lyk, hoe ons kinders presteer, hoe ons omstandighede lyk gemeet aan wat ander het. En so dikwels kla ons met ʼn witbrood onder die arm.

Ons kyk na:1. Die onverantwoordelike roekeloosheid van die jongste broer: Die media en advertensiewese fokus op begeerte; Christene se begeerte is ʼn begeerte na God.2. Die onvergenoegdheid van die oudste broer: Juis dit is waarmee ons die meeste worstel.3. God se genoegsame sorg en voorsiening: God gee alles wat ons nodig het.

God gee nie wat ons vra nie; God gee wat ons nodig het. Daarin lê ons tevredenheid (Ps 23).Die koninkryk van God behoort aan ons: God is altyd by ons; alles wat aan God behoort,

behoort ook aan ons (Luk 15:31).God gee alles wat God weet ons nodig het. God weet ons kan klaarkom sonder die dinge

wat ons nie het nie. Die jongste seun het dit ontdek toe hy daar tussen die varke gesit het. Sy onvergenoegdheid was sy eie toedoen.

Omdat ons in Jesus glo …… kyk ons anders.… leef ons anders.… is ons anders.