Kleuterkerk…!elkeSondag slimmerenliewervirJesus ... · 2013. 8. 23. · Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofbelydenis en die Dordtse Leerreëls; 3.3 in verbondenheid
Post on 13-Mar-2021
0 Views
Preview:
Transcript
Kleuterkerk … elke Sondag slimmer en liewer vir Jesus!
Terugvoer na verlede Sondag:
Hi Ds Andre; Ds Retief; De Wet en tannie Elmien, Ons was 13 maatjies by kleuterkerk en Chivon en Esmarie het gehelp. Ons het vooraf lekker kleigespeel en poppekas gehou -‐ en van die kleiner maatjies het met die matspeelgoed gespeel. Ons voorafsang was ses lekker liedjies: Stapsoldaatjie; Loof Hom met die tromme; Klop Klop aan die deur van jou hart; Laat ons skyn vir Jesus en die Borrelliedjie. Ons les was “Jesus ry op die donkie Jerusalem binne”. Ons het groot woorde geleer: dissipels en van donkies, palmtakke en ook wat die Paasfees is! Ons het die Bybelname opgesê en Tharine, Daniel en Abigail het vir ons gebid. Daarna het ons heerlik prentjies ingekleur en toe vir die laaste rukkie tot die groot kerk uitgekom het kraletjies geryg en legkaarte gebou. Groete en lekker week vir jul. Elizna en Magriet En ons weet nou hoe oulik julle is!! Dankie vir julle pragtige liefdesdiens!
Die Algemene Sinode, belydenisgrondslag van die kerk en die Belydenis van Belhar
Persone wat belangstel in die gebeure op die komende Algemene Sinode van 6-‐10 Oktober, kan dit nou reeds volg op die volgende webblad waar jy ook kan inteken om op jou e-‐pos berigte van die Sinode te ontvang: http://www.ngkerk.org.za/AS2013. Die debat oor Belhar en die wyse waarop die kerk Belhar aanvaar, is natuurlik een van die groot debatspunte. Dit mag wees dat die Here met die nuwe lig wat opgegaan het oor die alternatiewe wyse van inkorporering van Belhar in die belydenisgrondslag, dit vir die kerk tot groot seën kan maak en dit nie ‘n bron van verskeurdheid en etikettering sal word nie. Lees mooi die voorstel vir Artikel 1.
Hier is alreeds ‘n baie interessante uittreksel uit ‘n berig rakende Belhar: Een van die sentrale dinge waaroor die Algemene Sinode by sy vergadering 6-10 Oktober in Port Elizabeth moet besluit, is ‘n nuwe formulering van die Kerkorde se artikel 1, die belydenisgrondslag van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die uiteindelike goedgekeurde formulering van die Algemene Sinode sal aan sinodes en kerkrade voorgelê word vir instemming volgens die goedgekeurde prosesse van 2011. Die kerkorde sal eers ná dié proses verander kan word na gelang van die aanvaarding daarvan in die kerk al dan nie.
Hier is die ASM se aanbeveling aan die Algemene Sinode wat reeds aan al die sinodes gesirkuleer is vir insae en voorstelle vir ysiging. Dit word op die webwerf geplaas vir gesprek en konstruktiewe voorstelle van belangstellendes.
KERKORDE ARTIKEL 1 1. Die Nederduitse Geformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. 2. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die belydenisskrifte wat deur kerkvergaderinge, ampsdraers en lidmate onderskryf word. 3. Die Kerk bely: 3.1 in verbondenheid met die vroeë kerk die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanatius; 3.2 in verbondenheid met die kerk van die reformasie die drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofbelydenis en die Dordtse Leerreëls; 3.3 in verbondenheid met die kerk in die Suider-Afrikaanse konteks die Belydenis van Belhar. 4. Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van bykomende belydenisse naas die ekumeniese belydenissse en die drie Formuliere van Eenheid sonder dwang geskied. 5. Die Kerk aanvaar dat die taak van belydenisvorming nie afgehandel is nie en dat ‘n beter verstaan van die Woord van God kan lei tot wysiginge aan die belydenisgrondslag van die Kerk.
SINODALE SENTRUM OP ‘N BESONDERE WYSE GEGROET Dinsdag 13 Aug 2013 was nog ‘n besondere dag in die geskiedenis van die Sinodale Sentrum en Eeufees Gedenksaal van die NG Kerk Vrystaat toe daar amptelik van hierdie kompleks in Pres Brandstraat afskeid geneem is.
Ds Jan Lubbe, huidige Voorsitter van die Moderamen, het hierna die oordenking gelei uit Deut 8 uit die 1933 Afrikaanse vertaling: ... En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy Sy gebooie sal hou of nie. En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie,
maar van alles wat uit die mond van die Here uitgaan. Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie. Erken dan in jou hart dat die Here jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig en hou die gebooie van die Here jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees. Want die Here jou God bring jou in ‘n goeie land... en jy sal die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het. Tydens die opening van die NG Kerk in die Oranje Vrystaat se 39ste Sinodesitting op 8 April 1964, is die sinodesaal in gebruik geneem. By hierdie geleentheid het die destydse moderator, dr PSZ Coetzee, of oom Pietie, soos hy algemeen bekend was, ook hierdie spesifieke gedeelte as teksgedeelte gebruik. Ds Jan het tydens die gedenkdiens ook heelwat geskiedkundige feite oor dié saal gedeel en ook gepraat oor die besluite wat in hierdie saal tydens sinodesittings goedgekeur, sowel as afgekeur is. Dit alles het mens diep onder die indruk gebring dat die Kerk in die Vrystaat oor amper 150 jaar ‘n groot deel van die geskiedenis van hierdie provinsie was en steeds is! Francois Maritz (teologiestudent) ouderling Dawie Naudé van die Aandbloem Gemeente het met die simbool van die brandende fakkel (simbool op die Vrystaatse kerk se embleem) uit die saal geloop na Mamre, wat vir die volgende paar jaar die tuiste van die sinodale werksaamhede sal wees. Mamre is ‘n mooi kompleks, wat aanvanklik as versorgingshuis vir ongehude moeders gedien het en later al meer as gastehuis gebruik is. Dit is net langs die Van Heerdenweg ingang na Westerbloemaftree-‐oord.
Waardeer die unieke en kosbare in jou gesinslewe So vertel iemand van sy eggenote wat oorlede is. “Ek sou alles wat ek het, wou gee om net weer ‘n rukkie saam met my vrou te sit en haar teenwoordigheid te geniet.” En ek besef maar weer hoe kosbaar gesinslewe is! Soos die kleinseun wat vir ons gebore is by Roelof en Lesley-‐Ann. Nie uniek nie, want hier is baie oupas en oumas rondom ons, maar hierdie is vir ONS besonders. En ek soek raad by Oom Manie. “Wat moet ‘n oupa doen?”
Naamgenote besig om te “bond” “’n Oupa sit op die grond, speel met kleinkinders, trek gesigte totdat daar ‘n laggie deurbreek en … oor die algemeen: maak maar net ‘n totale gek van jouself!” En ek besef ek gaan dit regkry! Roelof Retief Botha Op die tema: Ook ‘n ander groot gemeentetrots:
Johan Cronje se bronsmedalje in Moskou!! En vir hulle is daar ook ‘n maand gelede ‘n seuntjie gebore wat bietjie later die jaar hier gedoop sal word (As Johan kan loskom van al die wedloopuitnodigings!) Kyk, daardie outjie sal kan hardloop met al die gene agter hom!! Geluk ook aan die grootouers Danie en Sarina! Daarom vir elkeen: Geniet jou gesin en die kosbaarhede in julle klein gemeentetjies van ons Here Jesus.
Die Here is besig om Universitas wonderlik te seën – sodat ons ‘n seën vir ander, ander gemeentes en die wêreld kan wees. Dit gebeur ook op finansiële gebied waar ons vir die eerste keer in 20 jaar vir die bedienings kon uitnooi om tussentydse begrotings in te dien vir meer Koninkrykswerk wat hulle graag wil doen. Met vanjaar se Tiendemaand sluit ons tematies weer aan by die teks van 2 Kon 4 vers 1-‐ 7 waar die Here vir die weduwee en haar seun sorg deur die olie te vermenigvuldig -‐ in so ‘n mate dat sy kruike gaan leen het! Die aantal kruike is almal gevul tot by die punt waar die seun vir sy ma sê: “… daar is nie meer ‘n kruik oor nie.” Die Here voorsien die middele. Maar dit hou op een of ander manier verband met ons verwagtings en ons dankbaarheid. Ons nooi maar net almal
(ook ons kinders) uit om deel te wees van die insameling waar ons (ongelowig?) kruike vir net
R400 000 uitgepak het op die begroting…… September tot November.(Lees ook op die webwerf die Profete-‐reeks [Elia-‐ en Elisa-‐sages] wat in die prediking die laaste tyd vertel het hoe wonderlik God sorgend betrokke is by sy kinders.)
‘n Mens sou verwag dat ‘n sinode die plek is waar belangrike besluite geneem word en waar groot en diep debatte plaasvind. Ons is so dankbaar om te kom rapporteer dat die Sinode wat vanjaar by Nampo (naby Bothaville) gehou is, juis iets
anders was. Dit was ‘n geestelike feesviering oor die feit dat ons ‘n lewende God het, wat sy kerk strategies in die Vrystaat geplaas het om die lig hier in die donker van ons tyd en uitdagings te laat skyn. Ek en Dewet het die sinode namens Universitas bygewoon en by die wonderlikste gasvry mense in Bothaville oornag. Ons het vir mekaar by herhaling gesê: “Al word daar nie ‘n enkele sinodale besluit geneem nie, was dit nog steeds die moeite werd omdat dit
‘n geleentheid was om die Naam van die Here groot te maak, saam te luister na wat Hy vir ons in ons konteks sê en om daardeur geïnspireer te word vir ons verdere taak. Verder het die gesprekke oor Belhar die koerant gehaal. Uiteindelik was die Vrystaat se Sinode se eerlike gesprekke oor die status en betekenis van die belydenisskrif waarskynlik een van die deurslaggewende redes waarom daar uiteindelik so ‘n besondere voorstel voor die Algemene Sinode sal dien (Sien artikel hierbo). Voor die Sinode het ons vir mekaar gesê dat ons in die kerk baie diep in die moeilikheid is oor hierdie saak en dat ons nie kan sien dat daar wenners uit die verdere verloop sal kom nie. En weer eens het die Here vir ons kom wys (glo ek profeties) dat Hy wonders doen, waar ons desperaat bakhand en afhanklik voor Hom kniel om uitkoms! Retief Botha en Dewet Marais
San-mense het nou hulle eie dominees Die gemeente is al vir baie jare ondersteunend betrokke by die opleiding van leraars onder die Boesman-gemeenskap. ’n Droom wat letterlik jare lank gekoester is, is onlangs verwesenlik toe lede van die San-gemeenskap as predikante gelegitimeer is. In 1991 het die gemeentes in die onderskeie San-gemeenskappe hier besluit dat hulle
nie deel wou hê aan die verenigingsproses in die destydse NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika nie. Hulle wou eerder deel wees van die NG Kerk in Namibië (NGKN). “Op die NGKN se sinodesitting in 1991 is hulle dan ook in die NG Kerk verwelkom.” Voortaan sou hulle deel wees van die Ring van Grootfontein. Ds. Van Zyl vertel dat die lidmate in dié gemeentes te min en te arm was om ’n eie leraar te kon bekostig. Sedert 2003 het hulle ring begin praat en beplan om hierdie gemeentes te help om “in eie taal, onder eie mense’ die evangelie te verkondig. Die volgende probleem was dat te min van die lidmate voldoende geletterd was; die meeste het die skool vroeg reeds verlaat. (Foto: Ds. Koos Engelbrecht in gesprek met een van die gelegitimeerdes. Ds. Koos en Amanda het nou afgetree, maar gaan in die suide van Namibië met soortgelyke opleiding begin.) Daar is toe samesprekings gevoer met prof. Malan Nel van die Universiteit Pretoria (UP) se Sentrum vir Kontekstuele Teologie. “Uiteindelik het die oplossing geblyk te wees dat bepaalde Namibiese leraars ’n intensiewe kursus moes deurloop om as dosente van die UP op te tree.” Onder leiding van dr. Jan Woest van Windhoek is drie dominees, Dirk de Vos, Koos Engelbrecht en Hendrik van Zyl, asook ’n lidmaat met teologiese opleiding, mev Amanda Engelbrecht, as dosente opgelei en aangestel. “Die daaropvolgende opleidingsproses van die San-kandidate was moeilik,” vertel ds. Van Zyl. Hulle bemeestering van Afrikaans was nie altyd op peil nie en die UP se standaard moes deurentyd gehandhaaf word. Veritas se opleidingstof is ‘n belangrike deel van hul kurrikulum. “Daar is ook deurlopend met die Algemene Sinode se Taakspan Regte gekonsulteer om seker te maak dat ons op die kerkordelike weg bly.” Van die 38 studente wat in 2008 vir die kursus ingeskryf het, het 16 dit voltooi. Na vyf jaar se onderrig het die droom nou waar geword. “Die suksesvolle studente het voor die kuratorium van die NGK Namibië verskyn ten einde op vrae te antwoord met die oog op legitimasie. “En op 30 Junie 2013 is die nuwe leraars in die NG Kerk Grootfontein gelegitimeer,” vertel ds Van Zyl. “Alle eer aan die Here!”
Sanel vertel van die YWAM-“troepe wat teruggekeer het”. Sanel was vanjaar die Dissipelskap-‐seminaarleier met 60 studente/sendelinge wat opleiding ontvang en daarna uitgestuur is na oa Thailand, Tanzanië and Malawi, waar sy as seminaarleier hulle ook gaan besoek het. Sy is vir ‘n paar weke by die huis waar sy haar ouers help met die nuwe skoenwinkel wat
hulle in die Brandwagsentrum oopgemaak het. Die foto vertel iets van Sanel: Altyd entoesiasties! En dit is nie ‘n kruis wat sy omhoog hou nie, maar ‘n skoffelpik…!
“With signs, miracles and wonders... they have returned. This group of students and staff have truly gone to the ends of the earth to go and proclaim the Good News! I am truly thankful that all of them have returned safely and ALIVE! Granted that some did contract Malaria (some twice), weird stomach issues, some were hospitalized, some had weird infections and almost
lost their leg, but God is faithful and everyone has a testimony on their lips of the GREAT things that Jesus has done. They have seen blind eyes open, deaf ears hear, illness and sickness leave at the command of Jesus's name, and most of all they were able to spread the contagious love of the Gospel. It was truly an amazing group of young people and I was so blessed to be a part of their journey and see how God has impacted each one of them. The greatest testimony of all through this 6 months is not necessarily the miracles (although that is quite amazing), but rather the fact that not one student or staff has left the same. Each person was truly touched in this season by God and His radical passionate all consuming love that He has for them. I know that this group of students has been sent back into their home countries with a total different outlook on God and His plan for this world.”
Afrika het die meeste Bybels15/08/2013 Deel van Artikel uit
Kerkbode Afrika is die kontinent waarby daar nie kers vasgehou kan word wanneer Bybelvertaling ter sprake kom nie. Luidens die jongste verslag van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe is Afrika die voorloper wat die aantal Bybelvertalings betref. “Dié vasteland beskik nou oor meer vertalings van die volledige Bybel as enige van die ander. Teen die einde van 2012 was die volledige Bybel in 189 van Afrika se ongeveer 2 000 tale vertaal en gepubliseer,” sê die verslag. Me Mims Turley, hoof van kommunikasie van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, sê die volledige Bybel is wêreldwyd beskikbaar in 484 van die sowat 6 600 tale wat in die wêreld gepraat word. Naas Afrika, is Asië die vasteland wat oor die meeste vertalings van die volledige Bybel beskik, naamlik 146. “Nuwe Testamente is nou in 1 257 tale beskikbaar en in 810 tale is daar ten minste een Bybelboek beskikbaar.”
Die gemeente se Bestuursraad (verstaan: Kerkraad) is besig om al meer weg te beweeg van ʻn vergadering wat net klinies besluite neem na ʻn gespreksgroep van gemeenteleiers wat saam bid en tyd saam spandeer om visionêr die wil van die Here vir Universitas te soek.
Wat gebeur daar alles? Enkele sake:
So is daar al geruime tyd die behoefte gevoel om die gasvryheidsbediening verder uit te brei met ʻn lekker Koffiewinkel waar ons (aanvanklik) net na eredienste meer informeel kan saamkuier – al is dit ook dat ons
iets sal betaal vir ʻn Douw Egberts- , Mokka- of filterkoffie met bietjie koek daarmee saam! Die gedagte is om die noordelike kwart van die saal daarvoor te gebruik met mooi vrolike tafeltjies en stylvolle versiering wat liefde, gasvryheid en tuiskoms komplimenteer. Dit mag ook die kuierplek raak vir wyksleiers en lidmate, wat deesdae van oor die hele stad hier ʻn geestelike tuiste vind. Die implimentering sal nog ʻn draai by Finansies moet maak, omdat dit ʻn kapitale uitleg gaan vra. Enigeen wat wil deel wees van die inisiatief en ʻn hart vir ʻn koffiekuier of versiering, kontak Dewet of die leraars. Oor die volgende sake word nog verder gebid:
Die lengte van die eredienste - en nie om dit korter te maak nie(!), daarvoor is al die kosbare liturgiese momente in die erediensgebeure net te ryk! Het ons nie te wetties geraak met ʻn 60-minute erediens nie?
Kan die goeie musiekbediening nie uitgebrei word met ʻn groei-bediening waar laerskool-kinders met hul instrumente êrens in die week vir ʻn uur oefen en dan een van die toetreeliedere by die erediens begelei nie? So word die kinders van kleins af deel van die bediening!
Die heling in bedienings van krisispastoraat, siekebesoek, verlieshantering en ander vorme van pastoraat geniet baie aandag. Die onderlinge kontak van lidmate en die kontak deur die wyks-/selleiers is hier onontbeerlik. Hierdie lidmaatbediening slaan die brug en komplimenteer dan ook die bedienings deur die leraars. Die pastorale spreekkamer na die eredienste help baie en is as bediening besig om te groei. .
Die Veritas-Bybelskool is besig om ʻn groot kwalitatiewe bydrae in ons lidmate se bemagtiging in die hantering van die Bybel in die gegewe konteks te maak. Volgende jaar sal ʻn Module 2-groep bykom, terwyl daar hopelik meer Module 1-groepe sal wees. Daar
het intussen ook ʻn oggend dames-groep bygekom wat deur Annel hanteer word.
Die Bestuursraad wonder hoe Universitas ondersteunend betrokke kan raak by gemeentes in die omgewing wat swaar kry en kwyn. Moet ons nie meer van ʻn bemoedigende hand na hul uitreik nie?
Dankie aan al die bedienings wat o.l.v. ʻn bedieningsleier so ʻn groot verantwoordelikheid neem vir ʻn groot aantal kernbediening in die gemeente. En dankie aan al meer lidmate wat spontaan by bedienings aanmeld – al is dit ook net by die Diakonie om met erediens-fasette te help. Dit laat
die gemeente se hart warm klop, waar mense self oor die grense van hul gemaksones klouter!!!!
Waarom Bybels van mekaar verskil 15/08/2013 Artikel gedeeltelik uit Kerkbode
“Daar is al weer ’n nuwe Bybel!” Só reageer baie Christene – min beïndruk – op die verskyning van ’n nuwe Bybelvertaling. Hoekom is “nuwe” vertalings nodig? En hoekom verskil die onderskeie vertalings op so baie plekke van mekaar? HERMAN GROBLER skets die buitelyne van ’n baie ingewikkelde maar fassinerende prentjie.
Vir mense vanuit die gereformeerde tradisie is die “Sola Scriptura” (oftewel “die Skrif alleen”) ’n beginsel van groot belang. Die volle Woord – niks bygevoeg nie, niks weggelaat nie. Dit is wel ook algemene kennis dat daar soms ingrypende verskille bestaan tussen ouer vertalings van die Bybel – soos die 1933/1953-Vertaling (OAV) – teenoor meer moderne vertalings – soos die 1983-Vertaling (NAV) en die “Bybel vir Almal”. Ons kan inderdaad dieselfde verwag met die komende Die Bybel: ’n direkte vertaling (2016). Hierdie vertalings is almal produkte van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA). Vertalings wat deur ander instansies as die BSA gedoen word, byvoorbeeld die Nuwe Lewende Vertaling, Die Boodskap en die Interliniêre Bybel toon dieselfde tendens. Die meeste van hierdie verskille kom ook in Engels en in ander tale voor. Ek het drie oorsake vir die verskille gevind:
1. Taalontwikkeling In die OAV word woorde gebruik wat ons nie (meer) in die algemene spreektaal gebruik nie. Wat sou “goedertierenheid” ten diepste beteken? Uit die 154 verse waar dit voorkom, haal ek Psalm 5:7 aan: “Maar ek, deur die grootheid van u goedertierenheid mag ek in u huis ingaan …” Die NAV vertaal dit hier met “groot liefde”. Op ander plekke is dit vertaal met “troue liefde”, “my trou”, “getrouheid”, “goedheid” en so meer. Soms is hele sinsnedes bykans onverstaanbaar – soos dié gedeelte in 2 Korintiërs 2:17: “Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.” Wie verstaan werklik wat hier staan? God wil tog ondubbelsinnig met ons kommunikeer, dan nie?
2 Vertalingsbenadering Omdat tale van mekaar verskil, en grammatikas nie dieselfde is nie, is ’n absoluut woord vir woord-vertaling onmoontlik. Ook het woorde nie altyd dieselfde betekenisinhoud nie. Daarom sal woorde soos byvoorbeeld priester, predikant, dominee, pastoor en leraar nie in alle gevalle met dieselfde woord in Engels vertaal kan word nie. Alle vertalings van literêre werk, dus ook dié van die Bybel, pas uiteindelik iewers op ’n lyn tussen ’n direkte, woord vir woord-vertaling en ’n vrye vertaling, of parafrase. Die NAV benut op sy beurt die “dinamies ekwivalente”-benadering, wat “gedagte vir gedagte” vertaal. Byvoorbeeld: In Openbaring 2-3 word die briewe aan die sewe gemeentes telkens aan die “angellos” van die gemeente gerig. Die bedoeling hier is tog nie ’n hemelse wese wat daagliks in God se teenwoordigheid kom nie, maar die (menslike) voorganger in die gemeente. Daarom eerder “leraar” as “engel”.
3. Die Griekse bronteks Die Nuwe Testament is in Grieks geskryf. Hoewel die kopieerders deur die eeue hulle kopieë met groot omsigtigheid gemaak het, het foute en variasies – soms onbewus, maar soms ook doelbewus – ontstaan. Sulke variasies word noodwendig na daaropvolgende manuskripte oorgedra. Tans gebruik Bybelgenootskappe – en die meeste ander vertalers van die Nuwe Testament – eerder die sogenaamde Nestle Aland-teks as bronteks, of die United Bible Societies se teks. Laasgenoemde tekste neem die ongeveer 5 894 bestaande Griekse manuskripte in ag, asook meer as 18 000 manuskripte van antieke vertalings en die aanhalings van meer as 200 ou kerkvaders. Die variasies word by elke vers onder aan die bladsy in hulle tekskritiese apparaat geplaas, sodat die vertaler onmiddellik ’n oorsig het oor wat in al die manuskripte wat tot ons beskikking is geskryf is. Wat ’n verbetering is dit nie op die lukrake keuse van ’n enkele persoon uit slegs ses manuskripte nie! Maar dit is juis die gebruik van ’n ander grondteks wat die oorsaak is vir die meeste ingrypende en ernstige verskille tussen die ouer en die meer moderne vertalings. Die finale keuse tussen variasies is ’n uiters verantwoordelike en ’n delikate uitdaging om uiteindelik by “Sola Scriptura” uit te kom. (Einde artikel)
En so is die Bybelgenootskap nou besig met ʻn nuwe bronteks-vertaling waarvoor daar groot behoefte in die Afrikaanse kerke is. Voorts saam is daar ʻn behoefte dat
die vreemdheid en die andersheid van die Bybel, vanuit sy unieke konteks, nie verlore moet raak in die vertaling nie. Ons sien uit na hierdie vertaling, wat binnekort kan verskyn. In ons gemeente is daar ook die afgelope tyd groot opgewondenheid onder die predikerspan oor die waarde wat die brontekste toevoeg tot die verkondiging van die Woord. Gaan lees gerus http://www.bybeldirektevertaling.co.za vir meer inligting.
Nisse steeds goeie opsie vir begrafnis Lidmate word aangemoedig om nisse by die Muur van Herinnering te kry, indien dit aan hul voorkeure voldoen. Ons is sommer net bewus daarvan dat die tweede muur ook al redelik vol geraak het en daar dan later ʻn nuwe muur gebou sal moet word. Skakel met die kerkkantoor daaroor.
Hele klompie herstelwerk aan gemeente-eiendomme. Die Eiendomsbediening is tans besig om aandag te skenk aan instandhoudingswerk by die kerk en een van die pastorieë, waar die vervalle omheining om die agterplaas alleen oor die R40 000 gaan kos. Vir baie jare het ons maar op instandhouding probeer spaar,
maar sal uiteindelik daaraan moet aandag skenk om die eiendomme nie te laat verval nie.
Komma
Ek seën U soos U my seën, nie soos U nie, nee; tog seën ek U: ʻn Glinstervliegie kleiner as ʻn komma
kom sit vertrouend op my hand en begin sy persoon versorg, en ek gevlei
durf my skaars roer: soos hy so tuis vermetel tuis is ek in U:
O Onveranderlike, Oneindigende, Onbeginnende Woord deur Wie ʻn klein
verrukte vuilerige kommatjie flits.
Sheila Cussons
top related